Sondag 19 Oktober 2014

Week 4, dag 2: ‘n Voorbeeld in die dissipels


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees
 
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees...”
(Handelinge 1:8)
 
Doelwitte:
Besef die Heilige Gees verander mense
Besef die Heilige Gees gee nuwe perspektief
Besef die Heilige Gees wek ware lewe
 
Elke keer as ek my Bybel optel, lees ek nou iets van lewe! Dis asof die woord ‘lewe’ eenvoudig van die bladsye af opspring en ek dit nie kan mis nie! Elke keer as ek op ‘n nuwe teksgedeelte afkom wat oor lewe handel dan dink ek, “Ag ek moes hierdie gedeelte in daardie les ingewerk het!” Maar soos ek vroeër gesê het, dit is onmoontlik om elke Skrifgedeelte wat oor ons tema handel in hierdie Bybelstudie te behandel. Ek hoop egter dieselfde gebeur met elkeen wat hierdie studie doen en dat julle jul eie ‘skatte’ raaklees.
Oor hierdie week se tema oor lewe deur die Heilige Gees kan ek presies dieselfde sê. Daar is so baie aspekte waarna ons kan kyk maar ek het besluit om te fokus op die Heilige Gees se werking in aardse lewens. Vandag kyk ons na die effek wat die Gees op die dissipels gehad het.
 
Lees Handelinge 1:4-8 en beantwoord die vrae:
 
Wanneer vind hierdie gesprek plaas, na of voor Jesus se dood en opstanding?
 
Watter opdrag en belofte gee Jesus aan sy dissipels?
 
Na aanleiding van hul vraag in vers 6, dink jy die dissipels het verstaan waaroor alles gaan?
 
Wat het Jesus gesê sal die dissipels ontvang wanneer die Heilge Gees oor hulle kom?
 
Wat sou die gevolg van hierdie krag wees?
 
Lees Johannes 20:19 hieronder:
 
“Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan...”
 
In watter gemoedstoestand was die dissipels na die dood van Jesus?
 
Hoekom was hulle bang vir die Jode?
 
Ek wil graag vra dat jy nou Handeling 2 vers 1-14 noukeurig lees dan oorsigtelik loer na die res van Petrus se toespraak tot vers 36.
 
Wat was die effek van die Heilige Gees se uitstorting op die dissipels? Skryf alles neer wat jy uit hierdie gedeelte kan eien.
 
Onder wie se leiding het Petrus die mense toegespreek?
 
Wat dink jy van Petrus se toespraak en die kennis en insig wat hy getoon het?
 
Lees Handelinge 4:1-20 en beantwoord die vrae:
 
Herken jy die Petrus wat Jesus verloën het?
 
Hoe word Petrus in vers 8 beskryf?
 
Hoekom was die Joodse Raad volgens vers 13 so verbaas?
 
Watter opdrag gee die Joodse Raad in vers 18 aan Johannes en Petrus?
 
Wat was Johannes en Petrus se reaksie daarop in vers 19-20?
 
Lees nou Handelinge 5:17-21 en beantwoord die vrae:
 
Wat het met die apostels gebeur?
 
Watter opdrag gee die engel aan hulle?
 
Het die apostels die engel gehoorsaam?
 
Wat dink jy het van hulle vroeëre vrees vir die Jode geword toe hulle saam bymekaar gekom en die deure gesluit het?
 
Dink jy die lewe het moeiliker of makliker vir die dissipels en apostels geword?
 
Watter verskil dink jy het die Heilige Gees in hul lewens gemaak wat veroorsaak het dat hulle die Boodskap kon uitdra ongeag van toenemende vervolging?
 
Lees die volgende Skrifgedeeltes en beantwoord die vrae:
 
“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Johannes 16:12)
 
“...en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:26)
 
“Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie, want die Heilge Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.” (Lukas 12:11-12)
 
Watter insig gee bogenoemde Skrifgedeeltes ons ten opsige van die apostels se vermoë om die Boodskap effektief oor te dra?
 
Wat dink jy word bedoel met ‘die hele waarheid’ in Joh 16:12 hierbo?
 
Dink jy die Heilige Gees het slegs die apostels kortstondig op hierdie wyse bygestaan of lei Hy ons ook vandag nog op dieselfde wyse?
 
Het jy al ervaar dat die Heilige Gees jou insig, woorde, krag of vrymoedigheid in situasies gegee het?
 
Wanneer ons die Heilige Gees ontvang en deur Hom leef, leef ons in, vanuit en tot die hele waarheid. Ons leef met die visie van die groter konsep van lewe. Ons huidige en onmiddelike omstandighede is nie meer ons volle konsep van lewe nie. Ons besef dat gemeenskap met God die Vader die belangrikste ding, die enigste ding is wat saakmaak omdat dit die ware lewe ontsluit. En ons weet dat dit slegs moontlik is deur  ons verbondenheid met Jesus Christus. Die Heilge Gees kom en vul ons met die hele waarheid en dis ‘n waarheid wat so groot is dat ons soos Paulus alle aardse dinge as waardeloos beskou want om Christus te ken oortref alles in waarde. Daarom maak die Heilige Gees ons getuies van die ware lewe, getuies van die Here!
 
Groete tot more wanneer ons kyk na die Gees se werk in die gelowiges.
Lize

Week 4, dag 1: ‘n Voorbeeld in Jesus



Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees

“…en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif of Hom neergedaal.”
(Lukas 3:21-22)
Doelwitte:
Besef dat Jesus in die Gees gewandel het
Verstaan hoe die Gees Jesus bygestaan het
Besef dat die Gees op dieselfde wyse in ons werk

Verlede week het ons die geheimenis van ware lewe ontdek – Jesus Christus. In Hom het ons toegang tot die ware lewe wat van God af kom. Tog is daar nog een Bybelse tema rakende ‘lewe’ waarna ons nog moet kyk en dit is lewe deur die Gees. Om te verstaan hoe en waar die Heilige Gees ‘n rol speel in ons leef van die ware lewe, kyk ons vandag na die verhouding tussen Hom en Jesus tydens sy aardse lewe.

Lees Lukas 3:21-22 hieronder en beantwoord die vrae:

“Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal.”

Wat was Jesus besig om te doen toe die Heilige Gees op Hom neergedaal het?

Hoekom het Jesus volgens Mattheus 3:15 Homself deur Johannes laat doop?

Wat sê dit alles vir ons van Jesus se verhouding met God die Vader selfs voordat Hy met die Heilige Gees vervul is?

Lees Johannes 14:15-17 en beantwoord die vrae:

Aan wie belowe Jesus die Heilige Gees?

Hoekom kan die wêreld Hom nie ontvang nie?

God die Vader skenk sy Gees aan dié wat Hom ken en liefhet. Jesus het ‘n intieme verhouding met sy hemelse Vader gehad reeds voordat Hy die Heilige Gees ontvang het. Aan diegene wat Hom liefhet, gee God sy Gees om te wys dat hulle aan Hom behoort asook om hulle by te staan.

Hoe beskryf Jesus die Heilige Gees in Lukas 11:13?

Volgens Johannes 3:34-35, in watter maat het die Vader die Heilige Gees aan sy Seun gegee?

In Lukas 11:13 sê Jesus dat die Vader ook aan ons sy Gees gee. In watter maat dink jy gee Hy sy Gees aan ons?

Lees Jesaja 11:2 en maak ‘n lys van al die eienskappe van die Gees.

Dink jy hierdie eienskappe van die Gees was slegs tot Jesus se beskikking of dink jy ek en jy kan ook daaruit put?

Kom ons kyk nou na ‘n paar voorbeelde waar ons kan sien hoe die Gees Jesus in sy aardse lewe bygestaan het.

Lees Lukas 4:1-2 hieronder en beantwoord die vrae:

“Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is.”

Hoe word Jesus in hierdie vers beskryf?

Wat het die Gees gedoen?

Het Jesus die leiding van die Gees gevolg?

Is jy gewillig om die leiding van die Heilige Gees te volg?

Wat het Jesus gedoen nadat Hy deur die duiwel versoek is? (sien Lukas 4:14-15)

Hoe word Jesus in hierdie gedeelte beskryf?

Volgens hierdie beskrywing, dink jy die Heilige Gees het Jesus bygestaan in sy moeilike tyd van versoeking of Hom in die steek gelaat?

Het jy al ‘n moeilike tydperk beleef waar jy kan getuig dat die Gees van God jou bygestaan het? Kan jy sê dat jy vol van sy krag daaruit gekom het?

Na Jesus se versoeking in die woestyn, het Hy Galilea toe gegaan om met sy bedieningswerk te begin. Ook hiervoor het die Heilige Gees Jesus voorberei en toegerus.

Lees Lukas 4:18-19. Wat was Jesus se bediening?

Hoe het Jesus verlossing vir die mensdom bewerk?

Hoe is Hy toegerus vir hierdie taak?

Lees Lukas 10:21-24 en beantwoord die vrae:

Wat het Jesus by hierdie geleentheid gedoen? Van watter emosies spreek dit?

Deur wie het Jesus dit gedoen?

Jesus is hier met vreugde en dankbaarheid vervul omdat God die Vader sy geheimenis bekendgemaak het aan gewone mense. Hy was verheug oor God se verlossingsplan vir die wat Hom liefhet. Hy het geweet dat Hy die vervulling van al God se beloftes is wat deur eeue heen deur die mense verwag is. Hy het geweet wat dit Hom sou kos…sy lewe, en tog kon Hy deur die Heilige Gees gevul wees met vreugde en dankbaarheid oor die lewe wat God aan ‘n verlore mensdom skenk.

Die Heilige Gees doen meer as om net ons voetstap te rig, meer as net om ons toe te rus en te versterk vir ons aardse lewens. Die Heilige Gees is ons skakel tussen die aardse lewe en die hemelse lewe. Soos Jesus, kan ons ook deur die inwoning van die Gees ons aardse lewe leef gevul met ‘n hemelse vreugde.

Een laaste vraag om te bedink: Laat jy die Gees toe om jou te vul met vreugde oor die wysheid en goeie wil van God die Vader? Vra die Gees daagliks om jou te lei nie net in jou handel en wandel nie, maar ook in die kennis en vreugde van dit wat God doen en beplan vir sy mensekinders.

Groete tot more,
Lize

Sondag 12 Oktober 2014

Week 3, dag 5: ‘n Nuwe lewe (vervolg)


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus


“Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
(2 Kor 4:16)

Gister het ons gekyk na die nuwe lewe wat daar vir ons in Christus is en hoe dit reeds ook ons aardse lewe beinvloed. Vandag gaan ons verder en begin deur te kyk na die vernuwing van ons denke.

3) Nuwe denke

Lees Romeine 8:7 hieronder en beantwoord die volgende vrae:

“Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.”

Wat moet verander as ons volkome nuut vir God wil leef?

Hoekom dink jy is ons denke so belangrik?

Lees Efesiërs 4:17-24 en beantwoord die vrae:

Waarheen lei die goddeloses se gedagtes?

Waarheen lei jou gedagtes meestal? Waarmee hou jy jou gedagtes besig? Wees eerlik.

Hoe vinnig groei ‘n negatiewe gedagte?

Waarin is ons onderrig? (vers 21)

Wat moet ons dus nou doen? (vers 22-23)

Lees Romeine 12:2 hieronder en beantwoord die vrae:

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur jule denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Wat moet ons nie doen nie?

Hoe verander God ons?

Wat is die doel van ons nuwe denke?

Wat ons dink is wat ons glo. Wat ons glo is wat ons op die ou end uitleef. Ons denke moet in ooreenstemming kom met God se denke sodat ons in ooreenstemming met sy wil vir ons kan leef.

Hoe vergelyk jou denke oor die volgende sake met die van God:

Jouself:_____________________________________________
Sukses:_____________________________________________
Geluk:______________________________________________
Geld:_______________________________________________
Vergelding:__________________________________________
Sorge van die lewe:____________________________________

4) Toenemende heerlikheid

Lees die volgende Skrifgedeeltes en beantwoord die vrae:

“Die wat hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun...” (Romeine 8:29)

 “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.” (2 Korintiërs 3:18)

“Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.” (2 Kor 4:16)

Waarvoor is ons bestem?

As die Here iets bestem het, dink jy dit kan omvergegooi word?

Word ons eensklaps verander?      

Hoe word ons volgens Kor 4:16 vernuwe?

Word jy soms moedeloos en voel dit vir jou of jy nooit verander nie?

Watter hoop bied die boonste verse jou?

Skryf ten minste een geestelike ding neer waarin jy weet dat jy gegroei het. Hoe het jy gegroei?

Voltooi Filippense 3:12 hieronder:

“Ek sê nie dat ek dit _________ al het of die doel al _________ het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my __________ Syne gemaak het.”

Hiermee sluit ons ‘n baie belangrike week van harde werk af. Ware lewe my vriend, dui nie net op die lewe wat ons eendag in die hemel sal geniet nie. Dit is ook bedoel om ons nou en hier radikaal en ten goede te verander. Dit is nie iets wat eensklaps plaasvind nie. Dit is ‘n proses - dag tot dag word ons vernuwe. Dit is genoeg vir my. Laat ons elke dag uitsien na die stukkie vernuwing wat wag en laat ons in alles meewerk terwyl ons ons verheug in die wete dat ons REEDS aan Christus behoort.

Amen!
Tot volgende week
Lize

Week 3, dag 4: ‘n Nuwe lewe


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus

“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.”
(2 Korintiërs 5:17)

Doelwitte:
Verstaan wat met ons gebeur wanneer ons deur geloof in Christus ingesluit word.
Verstaan dat ons geloof in Christus ‘n radikale effek op ons aardse lewe het.


Die laaste paar dae het ons werklik die geheimenis tot die ware lewe ontsluit! Inderdaad is hierdie geheimenis…Jesus Christus. As ons enigsins deel wil hê aan die ware lewe, sal ons dit slegs ontvang deur die geloof en in Christus. Op hierdie punt moet ons onsself ‘n belangrike vraag afvra: Ons weet hoe om in die ware lewe te deel maar wanneer deel ons daarin? Het dit slegs betrekking op die ewige lewe eendag in die hemel of het dit ook betrekking op ons aardse lewe? Is hierdie slegs ‘n hemelse skat of ook ‘n aardse skat? Dit is ‘n regverdige en belangrike vraag want ek weet nie van jou nie maar ek kan doen met ‘n aardse skat! Ek het iets van die ware lewe nou en hier nodig want ons aardse lewe is nie maklik nie. Groot is my vreugde dus om vandag vir jou te kan sê dat hierdie ‘n skat is wat ons reeds hier op aarde ontvang en wat nou reeds ‘n fenomenale effek op ons daaglikse bestaan het. Die koninkryk van God het naby gekom en ons aardse bestaan onomkeerbaar kom verander en dit ten goede! Vandag en more gaan ons kyk hoe.
  1. Heeltemal nuut
Lees 1 Petrus 1:23 hieronder:

“Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Ek is seker julle sal die volgende vrae kan antwoord sonder om selfs die antwoorde in die Skrif te gaan soek:

Uit wie se verganklike saad was ons eers gebore?


Het hierdie saad goeie vrugte gelewer?


Uit wie se onverganklike saad is ons nou nuutgebore?


Hoekom is hierdie saad onverganklik?


Wie plant die nuwe saad in ons?


Wat het Jesus vir Nikodemus gesê in Johannes 3:3 en 6?

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle geestelik doodgegaan want hulle is van God geskei deur die sonde. Hulle was afgesny van die ware lewe – gemeenskap met God. Wanneer ons nou in Christus glo, ontvang ons sy Gees en die Heilige Gees maak ons weer geestelik lewend. Ons het nie nuwe liggame gekry nie, maar ons het in die gees lewend geword omdat ons nou weer, in Chritus, deur die inwoning van sy Gees, met God versoen is. Hierdie splinternuwe geestelike lewe bring ‘n nuwe vrug voort.

Lees 1 Johannes 3:9 hieronder en beantwoord die vrae:

“Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.”

Watter tipe vrugte lewer hierdie nuwe saad waaruit ons nou gebore is?

Deur die Gees is ek en jy nou nuut gebore, uit Christus se saad. Ons groei nou as nuwe bome met ons wortels nie in sondige Adam nie, maar in Jesus Christus, die Seun van God wat vir ewig leef. Ons is nie meer Adam-bome nie! Ons is nou Jesus-bome! Jy kan nie appels van ‘n peerboom af pluk nie. Jy pluk nie Adam-vrugte van ‘n Jesus-boom af nie!

Dink jy nog aan jouself as ‘n sondaar en dus ‘n Adam-boom of 'n heilige en dus 'n Jesus-boom?

Jy kan net een tipe boom wees. Glo jy in Jesus Christus as jou Verlosser? Dis die eerste vrug van die onverganklike saad in jou. Sit jy hier en bestudeer die Woord van God? Dis ‘n verdere vrug van die onverganklike saad in jou. Die nuwe lewe in jou dra reeds vrug hier en nou in jou alledaagse bestaan. Jy dra Jesus-vrugte. Jy is nie ‘n Adam-boom nie!

Gaan jy nou voort en skryf ten minste nog 5 ‘vrugte’ wat jy in jou daaglikse lewe kan eien as tekens van die nuwe geestelike lewe in jou. Moenie bekommer nie, dit gaan nie hier oor selfverheerliking nie maar oor die herken van Christus se lewe in jou en daardeur gee ons aan Hom die eer. Het jy besef dat as Hy nuwe lewe in jou wek en jy bly sê hoe sondig en sleg jy is, dat jy Hom bedroef omdat jy sy werk ontken? So, vra die Gees om jou te help om die lewe van Christus in jou te herken.

1)_______________________

2)_______________________

3)_______________________

4)_______________________

5)_______________________

2) Beindiging van ons sondige bestaan

Lees Romeine 6:6-7 hieronder en beantwoord die vrae:

“Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.”

Wat dink jy beteken dit om ‘n slaaf van die sonde te wees?


Kan ‘n slaaf kies wat hy wil doen?


Wat verstaan jy onder die begrip ‘sondige bestaan’?

Ek het al gehoor dat mense hulself regverdig deur te sê dat hulle nie rook, drink of vloek nie. ‘n Sondige bestaan impliseer egter veel meer as dit! ‘n Sondige bestaan dui op ‘n sondaar en per definisie is ‘n sondaar iemand wat toegewyd is aan die sonde, iemand wat nie vry van die sonde is nie. So iemand is sonder God en staan teenoor God. Iemand wat toegewyd is aan die sonde kan nie ook toegewyd aan God wees nie.

Volgens Romeine 6:6-7, is jou sondige bestaan beëindig of nie?


Hoe kan jy seker wees daarvan? (Dink ook terug aan gister se les)


Voltooi Galasiërs 2:19-20 hieronder:


“...ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ____ wat lewe nie, maar __________ wat _____ in my lewe.”


Lees Romeine 6:8-12 en beantwoord die vrae:


As ek in Christus gesterf het, watter hoop het ek in die feit dat Hy ook weer opgestaan het?

Vir wie lewe Christus nou?


Vir wie lewe ons nou? Hoekom?

Die feit dat ons sondige bestaan tot ‘n einde gekom het  toe ons in ons verbondenheid met Christus saam met Hom  aan die kruis gesterf het, het ‘n direkte effek op ons aardse lewe.

Watter opdrag kry ons in Romeine 6:12?


Hoe stem dit ooreen met Kolossense 3:4-5 hieronder:

“Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”

Watter aardse dinge is nog deel van jou lewe?

Moenie dat die sonde een dag langer jou baas wees nie! Jy is nuut, jou sondige bestaan het in Christus tot ‘n einde gekom en jy is nou vry van die mag van die sonde. In plaas dat die sonde oor jou heers, kan jy nou oor die sonde heers!

More kyk ons na nog twee gevolge wat ons bestaan in Christus op ons hedendaagse lewe het.
Groete
Lize
 

Week 3, dag 3: In Christus, deur geloof


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus

“Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof in die Seun van God…”
(Galasiërs 2:20)

Doelwitte:
Om te bepaal hoe God se beloftes in my eie lewe neerslag vind
Om te bepaal hoe ek in Christus kan wees
Om te bepaal hoe ek sekerheid kan hê dat ek in Christus is


Gister se les ons weer daaraan herinner hoekom ons Jesus Christus so liefhet en hoekom Hy asook die Vader ons ewige lof waardig is! Christus het ons pad gestap. Hy het sy lewe gegee sodat ek en jy in die ware lewe kan deel. Tog kan ons dalk met rede die volgende vraag vra: As God se beloftes vir ons in Christus ‘ja’ is, hoe sit ons die ‘amen’ daarop? Hoe vind daardie vervulde beloftes neerslag in ons eie alledaagse lewens?

Lees 2 Korintiërs 1:20.


Wat sê ons op al die beloftes van God?


Klik op die volgende skakel om te sien wat die woord ‘amen’ beteken.


Hoe word Christus in vers 21 beskryf?

Kom ons begin deur te kyk na God se belofte aan Abraham. Lees Genesis 17:4-8.

Watter belofte gee die Here vir Abraham. Skryf soveel fasette van die belofte neer as wat jy kan identifiseer.


Lees nou Romeine 4:13 asook Romeine 4:18-22 en beantwoord die vrae:


Hoekom het Abraham al God se opdragte rakende die belofte nagekom?


Hoekom het Abraham die belofte ontvang?


Dink jy God se belofte aan Abraham is dieselfde belofte van lewe wat Hy vir ons in Christus gee?

Hoekom sê jy so?


Lees Hebreërs 11:1 en vul die ontbrekende woorde in:


“Om te glo, is om __________ te wees van die dinge wat ons _________, om __________ te wees van die dinge wat ons _______________________.”


Kan ons die vervulling van al God se beloftes sien?


Lees Galasiërs 3:21-22 en beantwoord die volgende vrae:


Is daar ‘n wet wat instaat is om vir ons die belofte van ware lewe te gee?


Sou ons so ‘n wet kon onderhou? Hoekom nie?


Hoe word God se belofte dan vir ons vervul?


Lees telkens die volgende Skrifgedeeltes en skryf teenoor elkeen wat ons in Christus deur die geloof ontvang:


Romeine 5:1: _______________________

Romeine 5:2: _______________________

Galasiërs 3:26: ______________________

Efesiërs 2:8: ________________________

Romeine 1:17: ______________________

God se beloftes aan ons is almal IN Christus DEUR die geloof.

Lees Efesiërs 1:13 hieronder in die Engelse vertaling (jammer, maar die Afrikaans sê dit nie soos die Engels nie!) en beantwoord die vrae:

“And you also were included in Christ when you heard the word of truth, the gospel of your salvation. Having believed, you were marked in him with a seal, the promised Holy Spirit...”

Hoe word ons in Christus ingesluit? (Kyk na al die onderstreepte woorde)


Hoe verkry ons geloof volgens Romeine 10:17?

Adam en Eva was ongehoorsaam omdat hulle God nie geglo het nie. Hulle ongeloof het hulle van God geskei. Dit is nou deur ons geloof dat ons in Christus weer tot God kan nader en in sy liefde en lewe kan deel! Omdat Adam en Eva God se waarheid nie aanvaar het nie, het hulle hom deur hulle ongeloof as ‘n leuenaar uitgemaak. Wanneer ons nou God se waarheid aanvaar wanneer ons dit hoor, gee ons Hom weer die eer wat Hom toekom. Dit is ons geloof wat God behaag. Ons geloof is ons ‘ja’ vir God en Christus is sy ‘ja’ vir die wat in Hom glo.

God is so ernstig oor sy ‘ja’ vir ons, dat Hy vir ons ‘n waarborg gegee het! Wat is daardie waarborg volgens Efesiërs 1:13 hierbo?

Ons kan seker ook vra, maar hoe weet ons dat ons die Heilige Gees het. Dink jy dat jy die Heilige Gees ontvang het en hoe weet jy dit?

Lees 1 Korintiërs 12:3 hieronder:

“Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: ‘Vervloek is Jesus’, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees.”

Vervloek jy die Here Jesus Christus of aanbid jy Hom as Here?


Het jy dus die Heilige Gees of nie?


Kan jy dus seker wees dat jy in Christus ingesluit is of nie?


Kan jy dus met sekerheid op al God se beloftes in Christus, ‘amen’ sê?


Hoe laat dit jou voel?

Op hierdie noot sluit ons af tot more wanneer ons kyk na die effek daarvan op ons daaglikse lewe.
Groete
Lize
 
 
 

Week 3, dag 2: God se ‘ja’


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus

“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ‘ja’”
(2 Korintiërs 1:20)

Doelwitte:
Verstaan wat God se ‘ja’ vir ons beteken.
Verstaan hoe God se ‘ja’ vir ons IN Christus is.

Christus is God se ‘ja’ vir die mensdom. Moenie verder lees nie. Staan eers ‘n bietjie stil by hierdie ongelooflike waarheid. Gee jouself genoeg tyd om dit in te neem en voel hoe dit binne in jou oopbars.

God het die mens geskape om in ‘n liefdesverhouding met Hom te staan, meer nog, om vir ewig in sy teenwoordigheid te leef. Hy het vir ons sy eie ewige lewensasem geskenk...en die mens het dit verwerp in ruil vir selfverheerliking. Saam met die Satan het die mens God as ‘n leuenaar uitgemaak en teen Hom gedraai. Adam en Eva het hul rug op God se aangesig gedraai en van Hom af weggestap reguit in ‘n doodsbestaan in. Dit wat Hy hulle in sy liefde geskenk het, het hulle aan die duiwel verkoop. Satan het hulle prins geword, die sonde hul meester en die ewige dood hul einde.

Adam en Eva se treurige verhaal is ook ons verhaal. Deur Adam het ons almal ‘n sondige natuur geërf. Ons word almal in sonde gebore. Nie een van ons kan daarop roem dat ons nog nooit teen God gesondig het nie. Ons was almal een of ander tyd ver van God af, ons almal het Hom een of ander tyd die rug gedraai. Ek en jy is so skuldig soos Adam en Eva. Daar is vir ons geen versagtende omstandighede nie. Ons was elkeen oppad na die ewige dood omdat ons die lewe wat God ons geskenk het, versmaai het. Daarom is die woorde van 2 Korintiërs 1:20, ons inleidingsvers, ook vir ons die soetste wat daar is.

Daar is nog ‘n rede hoekom God se ‘ja’ in Christus so ongelooflik is. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes:

“Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.”(Romeine 5:6)

“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Romeine 5:8)

Het Christus vir ons gesterwe omdat ons heilig is?


Wanneer het Christus vir ons gesterwe?

Waarom het Hy vir my en jou gesterf selfs voordat ons Hom kon liefhê?

Voordat ons nog kon dink om te vra het God in sy oneindige liefde al vir ons ‘n ‘ja’ gehad:
‘Ja’ dat Hy ons steeds liefhet.
‘Ja’ dat ons steeds in sy liefde kan deel.
‘Ja’ dat die ware lewe van die ware God steeds tot ons beskikking is.
‘Ja’ in Christus.

Skryf ‘n kort gebed van dank en lof teenoor jou liefdevolle Vader en sy Seun Jesus Christus vir sy ‘JA’.

Tot hiertoe het ek weliswaar baie van die skryfwerk gedoen maar nou is dit weer julle beurt om deur die Woord te blaai J. Kom ons kyk na drie ‘pilare’ waarop God se ‘ja’ in Christus berus. Lees telkens die relevante definisie en Skrifgedeeltes en beantwoord dan die vrae wat daarop volg:

Ons vryspraak (justification)
Vryspraak is om iemand wat aangekla word, onskuldig te verklaar. Om iemand van ‘n klag vry te skeld. Om iemand vry te spreek van die aanklag van sonde. Om iemand regverdig te verklaar en dus aanvaarbaar voor God.

Lees Romeine 3:19.


Wie is almal skuldig voor God?


Is ek en jy hierby ingesluit?


Wat is die aanklag teen ons?


Is ons in onsself regverdig of strafbaar voor God?


Lees Jesaja 53:6.


Wat het God gedoen?


Is net sekere sondes of alle sonde op Jesus geplaas?


Lees Jesaja 53:11 hieronder:

“My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.”

Wie is God se dienaar?


Hoekom is Hy ook die regverdige?


Hoe maak Hy ons regverdig?


In Christus, is ek en jy nou regverdig of skuldig en strafbaar voor God?

Ons verlossing of bevryding (redemption)
Hier word verwys na verlossing of bevryding wat verkry word deur die betaling van’n losprys. Bevryding van die straf vir oortredings. Bevryding van die toorn van God deur die dood van Christus.

Lees Romeine 6:23.


Wat is die verdienste vir die sonde?


Van watter dood dink jy praat Romeine 6:23?


Wat staan teenoor hierdie dood?


Kyk terug na Jesaja 53:11 ‘n entjie terug in ons teks. Wie het die straf vir ons sonde gedra?


Lees Romeine 5:9 hieronder:

“Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.”

Op grond waarvan is ons vrygespreek?


Hoekom word dit ‘n versoeningsdood genoem?


Lees Jesaja 53:10 hieronder:

“As hy lewe as ‘n skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê...deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.”

Wat dink jy is die Here se wil deur Christus?


Wat is die gevolg van ons versoening met God volgens Efesiërs 1:5


Lees Romeine 8:1.


Glo jy Romeine 8:1 ten volle of vrees jy nog enige straf van God?

Ons verlossing of redding (salvation)
Verlossing dra die idee van bevryding, bewaring, beskerming en veiligheid. Eties gesproke verwys dit na die redding van die siel. Dit verwys ook na die toekomstige verlossing as die som van al die voordele en seëninge wat die Christene sal geniet in die ewige koninkryk van God in die hemel. Redding van die straf, mag, teenwoordigheid en genot van die sonde.

Lees Romeine 5:10.


Waardeur word ons gered?


Wat het Jesus van lewe gesê in Johannes 14:19?


As ons vryspraak, verlossing en redding in Christus is, en Christus sou steeds in die graf wees, dood en van God die Vader geskei, waar dink jy sou dit ons los?


Lees Efesiërs 1:20. Waar is Christus nou?


Lees ons laaste teks vir die dag hieronder:

“Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in die tye wat voorlê bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus.” (Efesiërs 2:6-7)

Waar is ons nou in die gees?


Wat kan die rykdom van God se genade teenoor ons oortref?


Wat het God se genade, sy ‘ja’ vir ons Hom gekos? Wat sê dit vir jou van sy liefde vir ons?

Wat beteken God se ‘ja’ vir jou persoonlik?

As jy vanaand op jou bed lê, dink aan die goedheid van die Here wat daar vir jou en vir my IN CHRISTUS is! Dink aan sy ewige liefde vir jou!
Tot more,
Lize