Sondag 19 Oktober 2014

Week 4, dag 1: ‘n Voorbeeld in Jesus



Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees

“…en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif of Hom neergedaal.”
(Lukas 3:21-22)
Doelwitte:
Besef dat Jesus in die Gees gewandel het
Verstaan hoe die Gees Jesus bygestaan het
Besef dat die Gees op dieselfde wyse in ons werk

Verlede week het ons die geheimenis van ware lewe ontdek – Jesus Christus. In Hom het ons toegang tot die ware lewe wat van God af kom. Tog is daar nog een Bybelse tema rakende ‘lewe’ waarna ons nog moet kyk en dit is lewe deur die Gees. Om te verstaan hoe en waar die Heilige Gees ‘n rol speel in ons leef van die ware lewe, kyk ons vandag na die verhouding tussen Hom en Jesus tydens sy aardse lewe.

Lees Lukas 3:21-22 hieronder en beantwoord die vrae:

“Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal.”

Wat was Jesus besig om te doen toe die Heilige Gees op Hom neergedaal het?

Hoekom het Jesus volgens Mattheus 3:15 Homself deur Johannes laat doop?

Wat sê dit alles vir ons van Jesus se verhouding met God die Vader selfs voordat Hy met die Heilige Gees vervul is?

Lees Johannes 14:15-17 en beantwoord die vrae:

Aan wie belowe Jesus die Heilige Gees?

Hoekom kan die wêreld Hom nie ontvang nie?

God die Vader skenk sy Gees aan dié wat Hom ken en liefhet. Jesus het ‘n intieme verhouding met sy hemelse Vader gehad reeds voordat Hy die Heilige Gees ontvang het. Aan diegene wat Hom liefhet, gee God sy Gees om te wys dat hulle aan Hom behoort asook om hulle by te staan.

Hoe beskryf Jesus die Heilige Gees in Lukas 11:13?

Volgens Johannes 3:34-35, in watter maat het die Vader die Heilige Gees aan sy Seun gegee?

In Lukas 11:13 sê Jesus dat die Vader ook aan ons sy Gees gee. In watter maat dink jy gee Hy sy Gees aan ons?

Lees Jesaja 11:2 en maak ‘n lys van al die eienskappe van die Gees.

Dink jy hierdie eienskappe van die Gees was slegs tot Jesus se beskikking of dink jy ek en jy kan ook daaruit put?

Kom ons kyk nou na ‘n paar voorbeelde waar ons kan sien hoe die Gees Jesus in sy aardse lewe bygestaan het.

Lees Lukas 4:1-2 hieronder en beantwoord die vrae:

“Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is.”

Hoe word Jesus in hierdie vers beskryf?

Wat het die Gees gedoen?

Het Jesus die leiding van die Gees gevolg?

Is jy gewillig om die leiding van die Heilige Gees te volg?

Wat het Jesus gedoen nadat Hy deur die duiwel versoek is? (sien Lukas 4:14-15)

Hoe word Jesus in hierdie gedeelte beskryf?

Volgens hierdie beskrywing, dink jy die Heilige Gees het Jesus bygestaan in sy moeilike tyd van versoeking of Hom in die steek gelaat?

Het jy al ‘n moeilike tydperk beleef waar jy kan getuig dat die Gees van God jou bygestaan het? Kan jy sê dat jy vol van sy krag daaruit gekom het?

Na Jesus se versoeking in die woestyn, het Hy Galilea toe gegaan om met sy bedieningswerk te begin. Ook hiervoor het die Heilige Gees Jesus voorberei en toegerus.

Lees Lukas 4:18-19. Wat was Jesus se bediening?

Hoe het Jesus verlossing vir die mensdom bewerk?

Hoe is Hy toegerus vir hierdie taak?

Lees Lukas 10:21-24 en beantwoord die vrae:

Wat het Jesus by hierdie geleentheid gedoen? Van watter emosies spreek dit?

Deur wie het Jesus dit gedoen?

Jesus is hier met vreugde en dankbaarheid vervul omdat God die Vader sy geheimenis bekendgemaak het aan gewone mense. Hy was verheug oor God se verlossingsplan vir die wat Hom liefhet. Hy het geweet dat Hy die vervulling van al God se beloftes is wat deur eeue heen deur die mense verwag is. Hy het geweet wat dit Hom sou kos…sy lewe, en tog kon Hy deur die Heilige Gees gevul wees met vreugde en dankbaarheid oor die lewe wat God aan ‘n verlore mensdom skenk.

Die Heilige Gees doen meer as om net ons voetstap te rig, meer as net om ons toe te rus en te versterk vir ons aardse lewens. Die Heilige Gees is ons skakel tussen die aardse lewe en die hemelse lewe. Soos Jesus, kan ons ook deur die inwoning van die Gees ons aardse lewe leef gevul met ‘n hemelse vreugde.

Een laaste vraag om te bedink: Laat jy die Gees toe om jou te vul met vreugde oor die wysheid en goeie wil van God die Vader? Vra die Gees daagliks om jou te lei nie net in jou handel en wandel nie, maar ook in die kennis en vreugde van dit wat God doen en beplan vir sy mensekinders.

Groete tot more,
Lize

4 opmerkings:

  1. Hoe wonderlik om die week vanoggend te kon begin met die wete dat Jesus se lewe hier op aarde duisende jare terug nie net vir die mense van daardie tyd was nie maar ook vir my vandag. Ek voel so bietjie jaloers op die dissipels wat Jesus werklik kon sien. Ek het so paar weke terug 'n video gekyk of artikel gelees (kan nie mooi onthou nie) waar die persoon se dat ons nie Jesus kan ken as ons Hom nog nie gesien het nie. Dit woorde het daagliks by my opgekom en dit was tot vandag nog my gebed om ook Jesus te kan sien. Maar na die les van vandag voel ek bietjie anders daaroor: Omdat ek gevul is met die Heilige Gees en ek daagliks Sy stem hoor en sy wonders beleef sien ek tog vir Jesus. Nou wel nie in vlees en bloed nie maar in Gees. God het reeds sy wil aan die mens bekend gemaak deur Jesus na die aarde te stuur. Sy Gees het "agtergebly" in ons. Hoe dankbaar is ek nie vandag vir die voorreg om 'n Christuskind te kan wees nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek hoor sommer jou vreugde oorborrel. Baie mense het Jesus fisies gesien maar nie geken en geglo nie. Ons kan Jesus net sien en glo in die gees deur die Gees. En as ons Hom nou al deur die Gees liefhet wag daar die belofte van aangesig tot aangesig...volgende week se kersie op die koek van ons studie :-)

      Vee uit
    2. Kyk ook terug na week 3 dag 1 wat spesifiek oor ons ken van Jesus handel. :-)

      Vee uit
  2. Ek kan verseker getuig dat die Heilige Gees my bygestaan het in moeilike tye deur my lewe heen. Daar was tye dat die Here my bewaar het sonder dat ek doelbewus op Hom geleun het en dit is 'n bewys van sy groot genade maar wanneer ek doelbewus op Hom gesteun het en Hom gevra het om my te help en ek 'saamgewerk' het deur alles in die stryd te werp om te hoor wat Hy vir my in die situasie leer en sy leiding te volg kan ek werklik se dat ek dit nie maar net 'oorleef' het nie, maar werklik ook vol van sy krag daaruit gekom het. Ek leer om Hom as my Helper meer en meer te vertrou en te gehoorsaam :-)

    AntwoordVee uit