Sondag 12 Oktober 2014

Week 3, dag 5: ‘n Nuwe lewe (vervolg)


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus


“Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
(2 Kor 4:16)

Gister het ons gekyk na die nuwe lewe wat daar vir ons in Christus is en hoe dit reeds ook ons aardse lewe beinvloed. Vandag gaan ons verder en begin deur te kyk na die vernuwing van ons denke.

3) Nuwe denke

Lees Romeine 8:7 hieronder en beantwoord die volgende vrae:

“Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.”

Wat moet verander as ons volkome nuut vir God wil leef?

Hoekom dink jy is ons denke so belangrik?

Lees Efesiërs 4:17-24 en beantwoord die vrae:

Waarheen lei die goddeloses se gedagtes?

Waarheen lei jou gedagtes meestal? Waarmee hou jy jou gedagtes besig? Wees eerlik.

Hoe vinnig groei ‘n negatiewe gedagte?

Waarin is ons onderrig? (vers 21)

Wat moet ons dus nou doen? (vers 22-23)

Lees Romeine 12:2 hieronder en beantwoord die vrae:

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur jule denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Wat moet ons nie doen nie?

Hoe verander God ons?

Wat is die doel van ons nuwe denke?

Wat ons dink is wat ons glo. Wat ons glo is wat ons op die ou end uitleef. Ons denke moet in ooreenstemming kom met God se denke sodat ons in ooreenstemming met sy wil vir ons kan leef.

Hoe vergelyk jou denke oor die volgende sake met die van God:

Jouself:_____________________________________________
Sukses:_____________________________________________
Geluk:______________________________________________
Geld:_______________________________________________
Vergelding:__________________________________________
Sorge van die lewe:____________________________________

4) Toenemende heerlikheid

Lees die volgende Skrifgedeeltes en beantwoord die vrae:

“Die wat hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun...” (Romeine 8:29)

 “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.” (2 Korintiërs 3:18)

“Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.” (2 Kor 4:16)

Waarvoor is ons bestem?

As die Here iets bestem het, dink jy dit kan omvergegooi word?

Word ons eensklaps verander?      

Hoe word ons volgens Kor 4:16 vernuwe?

Word jy soms moedeloos en voel dit vir jou of jy nooit verander nie?

Watter hoop bied die boonste verse jou?

Skryf ten minste een geestelike ding neer waarin jy weet dat jy gegroei het. Hoe het jy gegroei?

Voltooi Filippense 3:12 hieronder:

“Ek sê nie dat ek dit _________ al het of die doel al _________ het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my __________ Syne gemaak het.”

Hiermee sluit ons ‘n baie belangrike week van harde werk af. Ware lewe my vriend, dui nie net op die lewe wat ons eendag in die hemel sal geniet nie. Dit is ook bedoel om ons nou en hier radikaal en ten goede te verander. Dit is nie iets wat eensklaps plaasvind nie. Dit is ‘n proses - dag tot dag word ons vernuwe. Dit is genoeg vir my. Laat ons elke dag uitsien na die stukkie vernuwing wat wag en laat ons in alles meewerk terwyl ons ons verheug in die wete dat ons REEDS aan Christus behoort.

Amen!
Tot volgende week
Lize

3 opmerkings:

  1. Denke is waar alles alles begin. Wat ek dink, word wat ek glo. Wat ek glo, word wat ek doen. Wat ek doen word wie ek is. Ek maak my keuse vir of teen God in my denke. Satan val my aan in my denke. Hy wil bepaal wat ek dink van God, van myself, van sonde en van Christus. Dankie dankie Here dat U ons denke kan vernuwe!!

    AntwoordVee uit
  2. Hoekom dink jy is ons denke so belangrik?
    My denke beïnvloed ons handeling en optrede teenoor ander. Vir my persoonlik maak my negatiewe gedagtes my siek van binne. En hoe meer ek negatief dink en praat hoe meer hou vas kry die Satan op my en is dit moeilik om die "situasie/gedagtes" om te keer. My optrede en woorde het klaar iemand beïnvloed,seergemaak. My woorde het ook klaar negatiewe gedagtes in iemand anders se denke geplant. Dit beteken dan dat ek Satan indirek toegang gegee het tot ander se denke ook.
    Hierdie is 'n groot uitdaging vir my tans in my lewe..... ek moet my negatiewe denke verander en dit kan ek slegs regkry om te fokus op die Ware Lewe en nie die aardse lewe nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hierdie is beslis vir ons almal 'n groot uitdaging. Wat in my gedagtes opkom nou is die vers waar die Here se dat wat vir ons onmoontlik is, nie vir Hom te moeilik is nie! Ons hoop is in Hom om nie net ons te verander en te vernuwe nie, maar ook daar waar ons optredes pyn veroorsaak het, heling te bring :-)

      Vee uit