Sondag 12 Oktober 2014

Week 3, dag 2: God se ‘ja’


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus

“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ‘ja’”
(2 Korintiërs 1:20)

Doelwitte:
Verstaan wat God se ‘ja’ vir ons beteken.
Verstaan hoe God se ‘ja’ vir ons IN Christus is.

Christus is God se ‘ja’ vir die mensdom. Moenie verder lees nie. Staan eers ‘n bietjie stil by hierdie ongelooflike waarheid. Gee jouself genoeg tyd om dit in te neem en voel hoe dit binne in jou oopbars.

God het die mens geskape om in ‘n liefdesverhouding met Hom te staan, meer nog, om vir ewig in sy teenwoordigheid te leef. Hy het vir ons sy eie ewige lewensasem geskenk...en die mens het dit verwerp in ruil vir selfverheerliking. Saam met die Satan het die mens God as ‘n leuenaar uitgemaak en teen Hom gedraai. Adam en Eva het hul rug op God se aangesig gedraai en van Hom af weggestap reguit in ‘n doodsbestaan in. Dit wat Hy hulle in sy liefde geskenk het, het hulle aan die duiwel verkoop. Satan het hulle prins geword, die sonde hul meester en die ewige dood hul einde.

Adam en Eva se treurige verhaal is ook ons verhaal. Deur Adam het ons almal ‘n sondige natuur geërf. Ons word almal in sonde gebore. Nie een van ons kan daarop roem dat ons nog nooit teen God gesondig het nie. Ons was almal een of ander tyd ver van God af, ons almal het Hom een of ander tyd die rug gedraai. Ek en jy is so skuldig soos Adam en Eva. Daar is vir ons geen versagtende omstandighede nie. Ons was elkeen oppad na die ewige dood omdat ons die lewe wat God ons geskenk het, versmaai het. Daarom is die woorde van 2 Korintiërs 1:20, ons inleidingsvers, ook vir ons die soetste wat daar is.

Daar is nog ‘n rede hoekom God se ‘ja’ in Christus so ongelooflik is. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes:

“Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.”(Romeine 5:6)

“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Romeine 5:8)

Het Christus vir ons gesterwe omdat ons heilig is?


Wanneer het Christus vir ons gesterwe?

Waarom het Hy vir my en jou gesterf selfs voordat ons Hom kon liefhê?

Voordat ons nog kon dink om te vra het God in sy oneindige liefde al vir ons ‘n ‘ja’ gehad:
‘Ja’ dat Hy ons steeds liefhet.
‘Ja’ dat ons steeds in sy liefde kan deel.
‘Ja’ dat die ware lewe van die ware God steeds tot ons beskikking is.
‘Ja’ in Christus.

Skryf ‘n kort gebed van dank en lof teenoor jou liefdevolle Vader en sy Seun Jesus Christus vir sy ‘JA’.

Tot hiertoe het ek weliswaar baie van die skryfwerk gedoen maar nou is dit weer julle beurt om deur die Woord te blaai J. Kom ons kyk na drie ‘pilare’ waarop God se ‘ja’ in Christus berus. Lees telkens die relevante definisie en Skrifgedeeltes en beantwoord dan die vrae wat daarop volg:

Ons vryspraak (justification)
Vryspraak is om iemand wat aangekla word, onskuldig te verklaar. Om iemand van ‘n klag vry te skeld. Om iemand vry te spreek van die aanklag van sonde. Om iemand regverdig te verklaar en dus aanvaarbaar voor God.

Lees Romeine 3:19.


Wie is almal skuldig voor God?


Is ek en jy hierby ingesluit?


Wat is die aanklag teen ons?


Is ons in onsself regverdig of strafbaar voor God?


Lees Jesaja 53:6.


Wat het God gedoen?


Is net sekere sondes of alle sonde op Jesus geplaas?


Lees Jesaja 53:11 hieronder:

“My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.”

Wie is God se dienaar?


Hoekom is Hy ook die regverdige?


Hoe maak Hy ons regverdig?


In Christus, is ek en jy nou regverdig of skuldig en strafbaar voor God?

Ons verlossing of bevryding (redemption)
Hier word verwys na verlossing of bevryding wat verkry word deur die betaling van’n losprys. Bevryding van die straf vir oortredings. Bevryding van die toorn van God deur die dood van Christus.

Lees Romeine 6:23.


Wat is die verdienste vir die sonde?


Van watter dood dink jy praat Romeine 6:23?


Wat staan teenoor hierdie dood?


Kyk terug na Jesaja 53:11 ‘n entjie terug in ons teks. Wie het die straf vir ons sonde gedra?


Lees Romeine 5:9 hieronder:

“Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.”

Op grond waarvan is ons vrygespreek?


Hoekom word dit ‘n versoeningsdood genoem?


Lees Jesaja 53:10 hieronder:

“As hy lewe as ‘n skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê...deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.”

Wat dink jy is die Here se wil deur Christus?


Wat is die gevolg van ons versoening met God volgens Efesiërs 1:5


Lees Romeine 8:1.


Glo jy Romeine 8:1 ten volle of vrees jy nog enige straf van God?

Ons verlossing of redding (salvation)
Verlossing dra die idee van bevryding, bewaring, beskerming en veiligheid. Eties gesproke verwys dit na die redding van die siel. Dit verwys ook na die toekomstige verlossing as die som van al die voordele en seëninge wat die Christene sal geniet in die ewige koninkryk van God in die hemel. Redding van die straf, mag, teenwoordigheid en genot van die sonde.

Lees Romeine 5:10.


Waardeur word ons gered?


Wat het Jesus van lewe gesê in Johannes 14:19?


As ons vryspraak, verlossing en redding in Christus is, en Christus sou steeds in die graf wees, dood en van God die Vader geskei, waar dink jy sou dit ons los?


Lees Efesiërs 1:20. Waar is Christus nou?


Lees ons laaste teks vir die dag hieronder:

“Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in die tye wat voorlê bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus.” (Efesiërs 2:6-7)

Waar is ons nou in die gees?


Wat kan die rykdom van God se genade teenoor ons oortref?


Wat het God se genade, sy ‘ja’ vir ons Hom gekos? Wat sê dit vir jou van sy liefde vir ons?

Wat beteken God se ‘ja’ vir jou persoonlik?

As jy vanaand op jou bed lê, dink aan die goedheid van die Here wat daar vir jou en vir my IN CHRISTUS is! Dink aan sy ewige liefde vir jou!
Tot more,
Lize

2 opmerkings:

  1. Ek het 'n snaakse antwoord hierop. God se ja begin vir my iets beteken van ontspan, lag, vreugde, rus en vertroue. Ek was nog altyd eerder 'n wroeg-mens. Wroeg oor al my foute en sondes. Voel onwaardig om deur Hom gebruik te word...asof ek Hom heeltyd faal. Tog het ek begin verstaan dat Hy my liefhet en dat Hy weet ek is life vir Hom. Dit beteken nie ek is nou ontspanne in die voortgaan en verdra van sonde nie maar dat ek ontspanne raak in die wete van sy liefde vir my en dat Hy my hierdeur en tot by my hemelse woning gaan kry. Moeilik om te verduidelik maar hoop julle verstaan iets van wat ek probeer se.

    AntwoordVee uit
  2. Miskien soos ons kinders - ons leer hulle heeltyd en rig hulle maar dit beteken nie ons wil he hulle moet heeltyd loop en stress oor hulle gedrag en elke klein foutjie nie. Ons is altyd lief vir hulle en dis ok as hulle foute maak, hulle is in 'n proses van opvoeding. Ons is gelukkig as ons sien dat ons kinders gelukkig en vrolik en vol lewenslus is al is hulle nie perfek nie. Dit is wat ek begin besef van my hemelse Vader en ek as sy kind. Hy wil graag he dat ek te midde van my leerproses, sal lag en veilig wees in sy liefde

    AntwoordVee uit