Sondag 12 Oktober 2014

Week 3, dag 4: ‘n Nuwe lewe


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus

“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.”
(2 Korintiërs 5:17)

Doelwitte:
Verstaan wat met ons gebeur wanneer ons deur geloof in Christus ingesluit word.
Verstaan dat ons geloof in Christus ‘n radikale effek op ons aardse lewe het.


Die laaste paar dae het ons werklik die geheimenis tot die ware lewe ontsluit! Inderdaad is hierdie geheimenis…Jesus Christus. As ons enigsins deel wil hê aan die ware lewe, sal ons dit slegs ontvang deur die geloof en in Christus. Op hierdie punt moet ons onsself ‘n belangrike vraag afvra: Ons weet hoe om in die ware lewe te deel maar wanneer deel ons daarin? Het dit slegs betrekking op die ewige lewe eendag in die hemel of het dit ook betrekking op ons aardse lewe? Is hierdie slegs ‘n hemelse skat of ook ‘n aardse skat? Dit is ‘n regverdige en belangrike vraag want ek weet nie van jou nie maar ek kan doen met ‘n aardse skat! Ek het iets van die ware lewe nou en hier nodig want ons aardse lewe is nie maklik nie. Groot is my vreugde dus om vandag vir jou te kan sê dat hierdie ‘n skat is wat ons reeds hier op aarde ontvang en wat nou reeds ‘n fenomenale effek op ons daaglikse bestaan het. Die koninkryk van God het naby gekom en ons aardse bestaan onomkeerbaar kom verander en dit ten goede! Vandag en more gaan ons kyk hoe.
  1. Heeltemal nuut
Lees 1 Petrus 1:23 hieronder:

“Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Ek is seker julle sal die volgende vrae kan antwoord sonder om selfs die antwoorde in die Skrif te gaan soek:

Uit wie se verganklike saad was ons eers gebore?


Het hierdie saad goeie vrugte gelewer?


Uit wie se onverganklike saad is ons nou nuutgebore?


Hoekom is hierdie saad onverganklik?


Wie plant die nuwe saad in ons?


Wat het Jesus vir Nikodemus gesê in Johannes 3:3 en 6?

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle geestelik doodgegaan want hulle is van God geskei deur die sonde. Hulle was afgesny van die ware lewe – gemeenskap met God. Wanneer ons nou in Christus glo, ontvang ons sy Gees en die Heilige Gees maak ons weer geestelik lewend. Ons het nie nuwe liggame gekry nie, maar ons het in die gees lewend geword omdat ons nou weer, in Chritus, deur die inwoning van sy Gees, met God versoen is. Hierdie splinternuwe geestelike lewe bring ‘n nuwe vrug voort.

Lees 1 Johannes 3:9 hieronder en beantwoord die vrae:

“Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.”

Watter tipe vrugte lewer hierdie nuwe saad waaruit ons nou gebore is?

Deur die Gees is ek en jy nou nuut gebore, uit Christus se saad. Ons groei nou as nuwe bome met ons wortels nie in sondige Adam nie, maar in Jesus Christus, die Seun van God wat vir ewig leef. Ons is nie meer Adam-bome nie! Ons is nou Jesus-bome! Jy kan nie appels van ‘n peerboom af pluk nie. Jy pluk nie Adam-vrugte van ‘n Jesus-boom af nie!

Dink jy nog aan jouself as ‘n sondaar en dus ‘n Adam-boom of 'n heilige en dus 'n Jesus-boom?

Jy kan net een tipe boom wees. Glo jy in Jesus Christus as jou Verlosser? Dis die eerste vrug van die onverganklike saad in jou. Sit jy hier en bestudeer die Woord van God? Dis ‘n verdere vrug van die onverganklike saad in jou. Die nuwe lewe in jou dra reeds vrug hier en nou in jou alledaagse bestaan. Jy dra Jesus-vrugte. Jy is nie ‘n Adam-boom nie!

Gaan jy nou voort en skryf ten minste nog 5 ‘vrugte’ wat jy in jou daaglikse lewe kan eien as tekens van die nuwe geestelike lewe in jou. Moenie bekommer nie, dit gaan nie hier oor selfverheerliking nie maar oor die herken van Christus se lewe in jou en daardeur gee ons aan Hom die eer. Het jy besef dat as Hy nuwe lewe in jou wek en jy bly sê hoe sondig en sleg jy is, dat jy Hom bedroef omdat jy sy werk ontken? So, vra die Gees om jou te help om die lewe van Christus in jou te herken.

1)_______________________

2)_______________________

3)_______________________

4)_______________________

5)_______________________

2) Beindiging van ons sondige bestaan

Lees Romeine 6:6-7 hieronder en beantwoord die vrae:

“Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.”

Wat dink jy beteken dit om ‘n slaaf van die sonde te wees?


Kan ‘n slaaf kies wat hy wil doen?


Wat verstaan jy onder die begrip ‘sondige bestaan’?

Ek het al gehoor dat mense hulself regverdig deur te sê dat hulle nie rook, drink of vloek nie. ‘n Sondige bestaan impliseer egter veel meer as dit! ‘n Sondige bestaan dui op ‘n sondaar en per definisie is ‘n sondaar iemand wat toegewyd is aan die sonde, iemand wat nie vry van die sonde is nie. So iemand is sonder God en staan teenoor God. Iemand wat toegewyd is aan die sonde kan nie ook toegewyd aan God wees nie.

Volgens Romeine 6:6-7, is jou sondige bestaan beëindig of nie?


Hoe kan jy seker wees daarvan? (Dink ook terug aan gister se les)


Voltooi Galasiërs 2:19-20 hieronder:


“...ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ____ wat lewe nie, maar __________ wat _____ in my lewe.”


Lees Romeine 6:8-12 en beantwoord die vrae:


As ek in Christus gesterf het, watter hoop het ek in die feit dat Hy ook weer opgestaan het?

Vir wie lewe Christus nou?


Vir wie lewe ons nou? Hoekom?

Die feit dat ons sondige bestaan tot ‘n einde gekom het  toe ons in ons verbondenheid met Christus saam met Hom  aan die kruis gesterf het, het ‘n direkte effek op ons aardse lewe.

Watter opdrag kry ons in Romeine 6:12?


Hoe stem dit ooreen met Kolossense 3:4-5 hieronder:

“Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”

Watter aardse dinge is nog deel van jou lewe?

Moenie dat die sonde een dag langer jou baas wees nie! Jy is nuut, jou sondige bestaan het in Christus tot ‘n einde gekom en jy is nou vry van die mag van die sonde. In plaas dat die sonde oor jou heers, kan jy nou oor die sonde heers!

More kyk ons na nog twee gevolge wat ons bestaan in Christus op ons hedendaagse lewe het.
Groete
Lize
 

3 opmerkings:

  1. Ek is as mens nog sondig maar omdat ek my lewe vul met die Gees van God is die vrugte wat ek dra goeie vrugte. So ja, ek is ‘n Jesus-boom!!!! Maar soos enige boom ook goeie en slegte vrugte dra en die slegte vrugte afval, val my “sonde” af van die boom. Die Jesus boom bly nog staan en dra weer vrugte. Solank ‘n boom versorg word sal die goeie vrugte altyd meer wees as die slegte vrugte. Daarom moet ek as Jesus-boom myself in Christus versorg om net meer en meer goeie vrugte te kan dra.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Wow Elize dis so mooi beeld en insig! Ek ervaar so duidelik in my lewe dit wat jy oor ons versorging sê. Ek kom vinnig agter as ek my versorging in Christus afskeep en dis ALTYD so n verligting as ek weer onder sy versorgingshand inklim!!! Dankie vir jou opmerking :-)

      Vee uit
  2. Ek is 'n Jesus-boom. Veral nadat ek my boek geskryf het en besef het wat die betekenis van 'n sondaar is uit Romeine 5 - en dat dit saamval met vyand van God, en goddeloos, weet ek dat ek nie meer daardie mens is nie. Dit beteken nie ek het nie nog steeds 'n stryd teen die sonde nie, dit beteken dat ek nou aan God se kant is en Hy aan myne. Ek het Hom nou lief en wil en strewe om binne sy wil te leef en in my is die Gees voortdurend besig om my te vernuwe na sy beeld.

    AntwoordVee uit