Sondag 19 Oktober 2014

Week 4, dag 2: ‘n Voorbeeld in die dissipels


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees
 
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees...”
(Handelinge 1:8)
 
Doelwitte:
Besef die Heilige Gees verander mense
Besef die Heilige Gees gee nuwe perspektief
Besef die Heilige Gees wek ware lewe
 
Elke keer as ek my Bybel optel, lees ek nou iets van lewe! Dis asof die woord ‘lewe’ eenvoudig van die bladsye af opspring en ek dit nie kan mis nie! Elke keer as ek op ‘n nuwe teksgedeelte afkom wat oor lewe handel dan dink ek, “Ag ek moes hierdie gedeelte in daardie les ingewerk het!” Maar soos ek vroeër gesê het, dit is onmoontlik om elke Skrifgedeelte wat oor ons tema handel in hierdie Bybelstudie te behandel. Ek hoop egter dieselfde gebeur met elkeen wat hierdie studie doen en dat julle jul eie ‘skatte’ raaklees.
Oor hierdie week se tema oor lewe deur die Heilige Gees kan ek presies dieselfde sê. Daar is so baie aspekte waarna ons kan kyk maar ek het besluit om te fokus op die Heilige Gees se werking in aardse lewens. Vandag kyk ons na die effek wat die Gees op die dissipels gehad het.
 
Lees Handelinge 1:4-8 en beantwoord die vrae:
 
Wanneer vind hierdie gesprek plaas, na of voor Jesus se dood en opstanding?
 
Watter opdrag en belofte gee Jesus aan sy dissipels?
 
Na aanleiding van hul vraag in vers 6, dink jy die dissipels het verstaan waaroor alles gaan?
 
Wat het Jesus gesê sal die dissipels ontvang wanneer die Heilge Gees oor hulle kom?
 
Wat sou die gevolg van hierdie krag wees?
 
Lees Johannes 20:19 hieronder:
 
“Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan...”
 
In watter gemoedstoestand was die dissipels na die dood van Jesus?
 
Hoekom was hulle bang vir die Jode?
 
Ek wil graag vra dat jy nou Handeling 2 vers 1-14 noukeurig lees dan oorsigtelik loer na die res van Petrus se toespraak tot vers 36.
 
Wat was die effek van die Heilige Gees se uitstorting op die dissipels? Skryf alles neer wat jy uit hierdie gedeelte kan eien.
 
Onder wie se leiding het Petrus die mense toegespreek?
 
Wat dink jy van Petrus se toespraak en die kennis en insig wat hy getoon het?
 
Lees Handelinge 4:1-20 en beantwoord die vrae:
 
Herken jy die Petrus wat Jesus verloën het?
 
Hoe word Petrus in vers 8 beskryf?
 
Hoekom was die Joodse Raad volgens vers 13 so verbaas?
 
Watter opdrag gee die Joodse Raad in vers 18 aan Johannes en Petrus?
 
Wat was Johannes en Petrus se reaksie daarop in vers 19-20?
 
Lees nou Handelinge 5:17-21 en beantwoord die vrae:
 
Wat het met die apostels gebeur?
 
Watter opdrag gee die engel aan hulle?
 
Het die apostels die engel gehoorsaam?
 
Wat dink jy het van hulle vroeëre vrees vir die Jode geword toe hulle saam bymekaar gekom en die deure gesluit het?
 
Dink jy die lewe het moeiliker of makliker vir die dissipels en apostels geword?
 
Watter verskil dink jy het die Heilige Gees in hul lewens gemaak wat veroorsaak het dat hulle die Boodskap kon uitdra ongeag van toenemende vervolging?
 
Lees die volgende Skrifgedeeltes en beantwoord die vrae:
 
“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Johannes 16:12)
 
“...en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:26)
 
“Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie, want die Heilge Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.” (Lukas 12:11-12)
 
Watter insig gee bogenoemde Skrifgedeeltes ons ten opsige van die apostels se vermoë om die Boodskap effektief oor te dra?
 
Wat dink jy word bedoel met ‘die hele waarheid’ in Joh 16:12 hierbo?
 
Dink jy die Heilige Gees het slegs die apostels kortstondig op hierdie wyse bygestaan of lei Hy ons ook vandag nog op dieselfde wyse?
 
Het jy al ervaar dat die Heilige Gees jou insig, woorde, krag of vrymoedigheid in situasies gegee het?
 
Wanneer ons die Heilige Gees ontvang en deur Hom leef, leef ons in, vanuit en tot die hele waarheid. Ons leef met die visie van die groter konsep van lewe. Ons huidige en onmiddelike omstandighede is nie meer ons volle konsep van lewe nie. Ons besef dat gemeenskap met God die Vader die belangrikste ding, die enigste ding is wat saakmaak omdat dit die ware lewe ontsluit. En ons weet dat dit slegs moontlik is deur  ons verbondenheid met Jesus Christus. Die Heilge Gees kom en vul ons met die hele waarheid en dis ‘n waarheid wat so groot is dat ons soos Paulus alle aardse dinge as waardeloos beskou want om Christus te ken oortref alles in waarde. Daarom maak die Heilige Gees ons getuies van die ware lewe, getuies van die Here!
 
Groete tot more wanneer ons kyk na die Gees se werk in die gelowiges.
Lize

1 opmerking:

  1. Ja, ek was nie altyd 'bold' in die uitspreek van my geloof nie, maar ek kan onthou eendag toe ek in 'n gesprek gesit het en net geweet het, ek kan nie meer stilbly nie. Van daar af het die Heilige Gees my gelei. Ek moes ook leer om nooit uit my eie krag uit te probeer praat of werk nie. Met die skryf van my boek het ek die leiding van die Gees ook ervaar omdat ek nooit so iets uit my eie sou kon doen nie. Ek het 'n bree raamwerk gehad maar die Gees het my hoofstuk vir hoofstuk gelei in wat die inhoud moes wees. Weereens is dit vir my nodig om konstant 'n nou verhouding met die Here te leef om sodoende fyn ingestel te wees op die Heilige Gees se leliding.

    AntwoordVee uit