Sondag 26 Oktober 2014

Week 5, dag 4: ‘n Plek sonder trane


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week: Die ewige lewe
 
“...vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer.”
(Jesaja 61:3)
 
Doelwitte:
Verstaan die negatiewe effek van sonde op ons aardse bestaan
Bepaal hoe Christus ons van sommige van hierdie effekte verlos het reeds tydens ons aardse bestaan
Verstaan die volkome afwesigheid van al hierdie negatiewe effekte in die hemelse koninkryk

Soos wat ek hier sit en skryf woed daar gruwelike oorloë in die Midde-Ooste en die Ukraíne, honderde sterf ‘n aaklige dood aan die Ebola virus in Wes-Afrika, ‘n ma en pa in ons omgewing rou oor die afsterwe van hul 9-jarige dogtertjie en ‘n dierbare vriendin is baie siek in die hospitaal nadat hulle ‘n kol op haar long gevind het slegs weke nadat sy ‘n dubbele vastektomie gehad het en ek sak my eie kop as ek dink aan hoeveel keer en hoe maklik ek hierdie week nog toegegee het aan die begeertes van my sondige natuur.

Sedert Adam en Eva hul rug op God gedraai het in Genesis 3, leef ons in ‘n gebroke wêreld gekenmerk deur lyding, pyn, droefheid en swaarkry. In een woord, die lewe is ‘n stryd. Selfs wanneer ons die ware lewe in Christus ontdek het en dit nou leef, leef ons dit steeds in die konteks van ‘n gebroke wêreld en in stryd met ons sondige natuur. Wie van ons is onaangeraak hierdeur, wie spring dit vry? Daarom is vandag se les vir my ekstra spesiaal, ekstra kosbaar.

Kom ons begin by die begin: Lees Genesis 3 in sy geheel en beantwoord dan die vrae:

Watter negatiewe emosies sien ons vir die eerste keer ooit in vers 7 en 10?

Watter negatiewe aksies sien ons vir die eerste keer in vers 8, 12 en 13?

Watter negatiewe gevolge sien ons in vers 15-19?

Watter verdere negatiewe gevolge word in die volgende twee verse beskryf:

Romeine 6:6: _________________________
Romeine 7:15: ________________________

Uit die vuis uit, watter van bogenoemde negatiewe effekte is in Christus tot niet gemaak?

Watter van bogenoemde negatiewe effekte is steeds deel van selfs Christene se lewe?

Lees Romeine 8:18-23 en beantwoord die volgende vrae:

Wat s
ê Paulus van ons huidige aardse lyding?

Wie sug almal in die ‘pyne van verwagting’?

Skryf ‘n paar woorde oor jou eie ‘sug’.

Waarvan sal God ons bevry?

Kom ons kyk nou na die dinge wat nie in die hemel sal wees nie. Lees die volgende verse en skryf die dinge neer wat nie die koninkryk van God sal sien nie:

Openbaring 21:27: _________________________
Openbaring 22:3: __________________________
Openbaring 22:5: __________________________
Openbaring 18:21: _________________________________

Waarvan dink jy is Babilon simbolies?

Openbaring 20:7-10: ________________________________
Openbaring 20: 14: _________________________________
Openbaring 21:4: ___________________________________

Wat sal die doderyk moet ‘teruggee’ volgens 1 Tessalonisense 4:16?

Waaroor is jy alles die blyste dat dit sal verbygaan en nie in die hemel sal wees nie?

Lees Hebreërs 11:39-40 hieronder:

“En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.”

Wat is die belofte waarna ons almal uitsien? (kyk na Hebreërs 11:10,13)

Hoekom het hulle nog nie die belofte gekry nie?

Wat sal ons almal, al die gelowiges en opregtes van alle tye, saam bereik?

Ek kan nie wag nie.
Tot more,
Lize

1 opmerking:

  1. Vrees en stryd. Die ewige stryd teen die sonde en teen die vyand wat lewe op alles vlakke altyd teenstaan en die vrees vir die verlies van 'n geliefde, vir siekte en rampe. Al weet ons die Here sal altyd vir ons die nodige krag gee om enige iets te oorkom, dink ek die meeste van ons vrees tog dat dit ons sal tref.

    AntwoordVee uit