Sondag 26 Oktober 2014

Week 5, dag 3: Uitnemender beloftes


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week: Die ewige lewe

“Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ‘n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan...”
(Hebreërs 9:24)

Doelwitte:
Besef dat die hemel ‘n beter bedeling as die aardse bedeling is
Verstaan van die belangrikste verskille tussen die hemel en die aarde

Ek het hierdie week al so baie geleer oor dié koninkryk in die hemel waarvan ek nou deur Christus, ‘n burger is. Vandag kyk ons nog ‘n bietjie dieper na van die verskille wat daar is tussen die aardse bedeling waar ons ons nou nog bevind en die nuwe hemelse bedeling wat ons verwag.

Lees Eksodus 25:8-9 hieronder en beantwoord die vrae:

“Hulle moet vir My ‘n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon. Die tabernakel en al sy toebehore moet gemaak word presies volgens die plan wat Ek jou gewys het.”

Wat noem die Here die tabernakel in die eerste sin hierbo?

Wat was die doel van die tabernakel?

Wat het die Here vir Moses gewys?

Hoe noukeurig moes Moses die Here se plan navolg?

Wat was die rol van die Hoëpriester volgens Hebreërs 5:1?

Lees nou die volgende Skrifgedeeltes en beantwoord die vrae:

“Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ‘n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn.” (Hebreërs 9:24)

“Hulle bedien egter slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom...nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Hebreërs 8:5-6)

“...ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur ‘n mens nie.” (Hebreërs 8:1-2)

Waar is die ware heiligdom?

Wie het almal toegang tot die ware heiligdom?

Wie het hierdie toegang bemiddel?

Wat dink jy is die hoofdoel van die ware heiligdom?

Watter belofte kry ons in Openbaring 21:3?

Hoe is hierdie belofte uitnemender as selfs ons huidige verhouding met die Here?

Voltooi Openbaring 21:22 hieronder:

“’n ____________ het ek nie in die stad gesien nie, want sy ___________ is die  _______ _________, die Almagtige, en die _________.”

Wat sal volgens die volgende verse word van die huidige bedeling, die skadubeeld:

Hebreërs 8:13:____________________________________
Jesaja 65:17: _____________________________________

Wat is egter die uitnemende belofte in Jesaja 66:22?

Dit bring ons by jou en by my en die gelowiges in Christus. Ook vir ons is daar ‘n bestaan wat ons aardse bestaan ‘n blote skadubeeld maak.

Watter beloftes is daar vir my en vir jou in die volgende verse:

Filippense 1:6: __________________________________
Filippense 1:10: _________________________________
Filippense 1: 11: _________________________________
1 Korintiërs 15:42-44: _____________________________
1 Korintiërs 15:52-53: _____________________________
1 Joh 3:2: ______________________________________

Watter van hierdie uitnemender beloftes wat vir ons wag raak jou hart vandag die meeste en hoekom?

Ek is so baie bly oor al die uitnemender beloftes van die nuwe verbond in Jesus Christus. Ek is so baie bly oor die Here se belofte in Openbaring 21:5 – “Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’”

Groete tot more,
Lize

1 opmerking:

  1. Almal is so kosbaar ek kan nie een uitsonder nie. Miskien tog die belofte dat die Here die werk wat Hy in my begin het tot voltooiing sal bring en dat ek Hom sal sien soos Hy is! Dan is die belofte uit Jesaja dat ons nie eens meer aan die vorige dinge sal dink nie ook baie spesiaal!

    AntwoordVee uit