Sondag 26 Oktober 2014

Week 5, dag 5: Die voleinding van alles


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week: Die ewige lewe
 
“Geseënd is dié wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan”
(Openbaring 22:14)
 
Doelwitte:
Verstaan die volle sirkel van God se ewige plan
Motivering om te volhard
Blydskap in die Here Jesus Christus
 
Toe ‘n vriendin my vroeër vanjaar gevra het om vir haar en haar expat vriendinne ‘n Afrikaanse Bybelstudie te skryf, het ek geen idee gehad van die geestelike reis waarop dit my sou neem nie. Die saadjie vir ons tema het Hy reeds ‘n klein rukkie tevore onaangekondig in my hart geplaas: Daardie lewe wat waarlik lewe is. Toe die versoek vir ‘n Bybelstudie kom, het ons studie-inleidingsvers, 1 Timotheus 6:19 skielik in my hart lewendig geword...God het ons tema gekies. En wat ‘n reis. Ek het soveel geleer. Ek voel asof ek weer naby aan die Here gekom het, asof ek weer geestelik asemhaal. Ek voel met die Gees vervul terwyl ek met my geestelike oë gekyk het na die koninkryk wat kom, die koninkryk van die lewe, die koninkryk van God. Vandag liewe vriend en vriendin, sluit ons ons studie af maar ek weet dat daar nog soveel te leer is, soveel om te ontdek. Mag God aanhou om sy waarheid oor die ware lewe aan ons te openbaar! Kom ons geniet egter nou saam ons laaste hemelse blik op die ware lewe J
 
Lees Genesis 3:22-24 en beantwoord die volgende vrae:

Wat wou God nie hê moet gebeur nie?

Hoekom dink jy wou God nie dat dit gebeur nie? Was dit nie sy begeerte dat die mens vir ewig in sy liefde en lewe sou deel as sy kinders nie?

Om jou te help, antwoord die volgende vrae:

Van watter boom het die mens reeds geëet?

In watter toestand het dit die mens gelaat?

As die mens ook nou van die boom van lewe sou eet, in watter toestand sou die mens vir ewig bly voortleef?

As die mens vir ewig sou voortleef, sou hy dit nodig geag het om van sy sondige natuur verlos te word?

Wat het God met die mens gedoen volgens vers 24?

Wat het God oos van die tuin van Eden geplaas?

Hoekom het Hy dit gedoen?

Die mens was afgesny van die lewe wat daar in God is, maar gelukkig was die mens nie afgesny van die liefde van God nie! God se liefde was en is groter!

Voltooi Johannes 3:16 hieronder:

“God het die wêreld so ________ gehad dat Hy sy enigste Seun __________ het, sodat dié wat in Hom ________, nie ___________ sal gaan nie maar die  __________ _________ sal hê.”

Gedurende die afgelope vyf weke het ons gesien hoe ons, in Christus en deur die Heilige Gees deur die geloof weer deel kan kry aan die ewige lewe, die ware lewe. Ons het gesien hoe ons, steeds in hierdie gebroke lewe, reeds iets van die ware lewe kan lééf. Maar, vriend en vriendin, kom ons kyk nou na die voleinding van dit wat ons glo en hoop.

Lees Openbaring 21:9-27 en beantwoord die vrae:

Wat word die nuwe Jerusalem in vers 9 genoem?

Dink jy die ‘vrou van die Lam’ is ‘n dooie stad of die mense van die stad?

Van waar kom die stad?

Wat het die stad volgens vers 11?

Van vers 11 tot vers 21 kry ons ‘n beskrywing van die nuwe stad Jerusalem se voorkoms. In aggenome dat Jesus vir ons as blote mense ‘n fisiese beskrywing moes gee wat ons kan verstaan, wat dink jy is die simboliek van ‘n stad gebou met die kosbaarste van edelgesteentes ?

Wie is die Tempel van die stad?

Wat noem Jesus homself in Johannes 8:12?

Wie is werklik die lig van die nuwe stad Jerusalem?

Is die poorte van die stad bewaak of gesluit?

Wie sal in die stad kan ingaan?

Hoeveel meer beteken daardie term nie nou vir my nadat ek hierdie studie oor die ware lewe gedoen het nie... ‘die boek van die lewe, die boek van die Lam’!

Lees Openbaring 22:1-6 en beantwoord die vrae:

Wat het Johannes gesien in vers 1?

Waaruit stroom hierdie rivier?

Wat staan tussen die hoofstraat en die rivier?

Word die boom steeds gerubs en ‘n vlammende swaard bewaak?

Hoe vrugbaar is die boom?

Wat doen die blare van die boom?

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan huil soos ek hier sit en skryf. Huil van blydskap, dankbaarheid en ‘n besef van God se genade. Die boom van die lewe sal nie vir ewig bewaak word nie.

Waar sal die troon van God en die Lam wees?

Wie sal Hom dien?

Sal ons Hom kan sien?

Wie se Naam sal op ons koppe wees?

Tot wanneer sal dit voortduur?

Hoe betroubaar is hierdie woord?

Voordat ons afsluit hoor ek graag wat jou gevoel is aan die einde van hierdie studie?

Lees Openbaring 22:12-14 hieronder:

“Jesus sê toe weer: ‘Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. Geseënd is die wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.”
 
Amen

1 opmerking:

  1. Baie dankie aan my vriendin wat my sover gekry het om hierdie Bybelstudie te skryf! Ek het baie geleer en selfs nou voel dit vir my ek het net die punt van die ysberg geraak. Ek wil nog meer en meer leer. Ek wil gereed wees vir my Bruidegom!! Amen!

    AntwoordVee uit