Sondag 26 Oktober 2014

Week 5, dag 2: Skatte in die hemel


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week: Die ewige lewe

“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
(Mattheus 6:21)

Doelwitte:
Verstaan die konsep van hemelse skatte
Besef die belang en die ewigheidswaarde van die liefde
Besef dat die Here self ons grootste skat is

Vandag begin ons sommer dadelik met die voet in die huis...of dalk moet ek sê
 ‘n voet in die skatkamer van die hemel J.

Lees 1 Petrus 1:3-7a en beantwoord die vrae:

Wie is ons lewende hoop?

Kan jy in jou eie woorde verduidelik hoekom Hy ons hoop is?

Wat word vir ons in die hemel in bewaring gehou?

Kom ons doen ‘n omgekeerde oefening. Teenoor elke beskrywing van ons hemelse erfenis hieronder wil ek hê dat ons drie dinge in ons lewe sal neerskryf wat nie aan die beskrywing voldoen nie maar eerder die teenoorgestelde. Met ander woorde drie dinge wat wel verganklik, besmet en verwelkbaar is:

Onverganklik - ______________________________________________________
Onbesmet - _________________________________________________________
Onverwelklik - ______________________________________________________

Wat hier op aarde is nié verganklik, besmet en verwelkbaar nie? Wat ‘n troos om te weet dat dit wat vir ons in die hemel wag onverganklik, onbesmet en onverwelklik is!!

Wat bid Paulus vir die Efesiërs rakende die heiliges se erfenis in Efesiërs 1:17-18?

In ons hemelse erfenis is daar ‘n heerlike rykdom wat ons slegs deur geopende geestesoë kan begin verstaan! Ongelukkig beskou ons alles nog so maklik deur wêreldse oë. Ons idee van ‘n erfenis en rykdom is dikwels nog so aardsgebonde.

Lees Openbaring 3:17-18 en beantwoord die vrae:

Wat het die Laodisiërs gedink?

Wat het Jesus gesê moet hulle by Hom koop?

Lees 1 Petrus 1:7 om te sien wat Jesus moontlik met gesuiwerde goud kon bedoel.

Lees Openbaring 19:8 om te sien waarna die wit klere moontlik kon verwys.

Lees 1 Timotheus 6:17-19 en beantwoord die vrae:

Aan wie is hierdie raad gerig?

Waarop moet hulle nie hulle hoop vestig nie?

Waarin moet hulle eerder ryk wees?

Wat vergader hulle daardeur vir hulleself?

Wat sal hulle beloning wees?

Hoe stem dit ooreen met wat Jesus in Lukas 12:33-34 sê?

As ons mooi kyk na die boonste gedeeltes uit 1 Timotheus 6 en Lukas 12 dan sien ons dat die rykdom wat ewigheidswaarde het te doen het met mense, diensbaarheid en liefde.

Voltooi 1 Korintiërs 13:8 hieronder:

“Die ________ vergaan _________ ______...”

Ek weet nie van jou nie, maar dit maak my opgewonde om te besef dat daar wel iets hier op aarde is wat ewigheidswaarde het. Reeds hier op aarde kan ons ‘n hemelse skat ontdek en uitleef.

Wat sê Romeine 5:5 van die liefde?

God het sy liefde nou reeds in ons harte uitgestort, en deur die uitdeel en uitleef van daardie liefde, gaar ons vir ons ‘n hemelse skat op maar, liewe vriend en vriendin, in die hemel is daar ‘n ongelooflike rentekoers...in die hemel sal ons soveel meer kry as bloot die liefde wat ons hier geleef het...in die hemel is God die Vader wat liefde is en Jesus Christus, die bewys van sy liefde vir ons!

Kom ons sluit af met Psalm 16:5 hieronder:

“Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Ons erfdeel, ons skat, ons rykdom is die Here self!

Na aanleiding van ons inleidingsteks...waar is jou skat, waar is jou hart?

Groete tot more
Lize

1 opmerking:

  1. Verganklik: My huisorde waaraan ek so baie tyd spandeer en so daaroor met my man kan raas, my sterk opinies (nie hiermee te verstane Bybelse waarheid nie) waaraan ek so vir lewe en dood kan klou en vir lewe en dood kan veg, aardse gemaksones!
    Besmet: Verhoudings, gedagtes, motiewe - maar hierdie word daagliks hernu!!!! Dit doen die Gees en ek is Sy medewerker deur my gehoorsaamheid...maar dis harde werk! Ek sien egter uit na die tyd wanneer hierdie dinge totaal onbesmet sal wees maar totaal rein en skoon en heilig.
    Verwelklik: My liggaam, skoonheid, fisiese energie

    AntwoordVee uit