Sondag 26 Oktober 2014

Week 5, dag 1: Burgers van ‘n nuwe koninkryk




Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week: Die ewige lewe

“Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.”
(Filippense 3:20)

Doelwitte:
Besef dat ons nou tot ‘n nuwe koninkryk behoort
Identifiseer die kerneienskappe van diegene met hemelse burgerskap
Besef dat ons nou koningskinders is wat heilig leef

Die afgelope vier weke het ons gekyk na die konsep van daardie lewe wat waarlik lewe is. ‘n Ruk gelede het ek ‘n preek van Charles Spurgeon gelees waarin hy dit so mooi opsom: Soos wanneer die liggaam slegs lewendig is wanneer dit met die siel verenig is en sterf wanneer die siel die liggaam verlaat, so op sy beurt word die siel gevul met ware lewe wanneer dit met God versoen is maar sterwe ‘n geestesdood wanneer dit van God afgesny word. Ware lewe, lewe in sy volheid, is daar waar ons met God versoen is. Daarom is die ware lewe wat van God af kom reeds ‘n werklikheid in die lewens van diegene wat in Christus en deur die Gees naby aan God gekom het, al leef ons steeds binne die konteks van ‘n gebroke wêreld.

Maar God se plan vir diegene wat Hom liefhet is veel groter as dit. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” (1 Korintiërs 2:9)

Hierdie week kyk ons na die lewe wat kom, die tyd wanneer die ware lewe tot volle vervulling sal kom. Ons lesse gaan effens korter wees. Dit sal wees soos lekseltjies van ‘n heerlike roomys op ‘n snikhete somersdag! Kom ons begin.

Lees Johannes 18:36 en beantwoord die vrae:

Wat bedoel Jesus as Hy sê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie?

Waar is sy koninkryk?

Watter verskil sê Hy sou dit aan sy dienaars gemaak het as sy koninkryk wel van hierdie wêreld was?

Watter tipe oorlog voer ons wel volgens Efesiërs 6:12?

Dink jy Pilatus kon verstaan dat ‘n koning se dienaars nie die swaard sou opneem nie?

Wie is Jesus se dienaars? Is jy ‘n dienaar van Jesus?

Waarvoor veg jy, aardse oorwinnings of hemelse oorwinnings?

Wat sê Jesus van sy dienaars in Johannes 17:16?

Kyk weer na vandag se inleidingsteks. Waartoe behoort ons nou?

Lees Mattheus 13:44-50. Skryf alles neer wat jy uit hierdie gedeelte geleer het van dié koninkryk waartoe jy nou behoort.

Hoe kosbaar is jou hemelse burgerskap vir jou?

Kan ‘n mens in jou handel en wandel sien dat jou hemelse burgerskap vir jou baie kosbaar is?

Lees Mattheus 5:3-12

Noem soveel eienskappe van hulle wat tot die hemelse koninkryk behoort, as wat jy in hierdie gedeelte kan kry.

Noem soveel beloftes wat vir diegene in die hemelse koninkryk wag, as wat jy in hierdie gedeelte kan kry.

Hemelse burgerskap is so ongelooflik kosbaar! Dit is die kosbaarste geskenk wat ons ooit kon kry uit die Vaderhand. Dit is duurgekoop en vir dié wat daartoe geroep is moet dit wees soos met die kosbare pêrel in Mattheus 5.

Lees 2 Petrus 1:10-11 en beantwoord die vrae:

Is jy ‘n burger van die hemelse koninkryk? As jy enigsins twyfel, vra God om dit aan jou te openbaar. Vra Hom om vir jou die ewige lewe in Christus Jesus te skenk deur die vergifnis van jou sondes.

Wat sê Petrus moet ons doen indien ons burgers van die hemelse koninkryk is?

Kan mense in jou daaglikse lewe sien dat jy nie tot hierdie wêreld behoort nie?

Voltooi vers 11 hieronder:

“En dan sal daar vir julle __________ en ____________ toegang wees tot die _________ ___________ van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Wat sê Petrus van ons in 1 Petrus 1:9?

Wat wag vir ons in die hemel volgens elk van die volgende verse:

1 Korintiërs 9:25: __________________________

2 Timotheus 4:8: ___________________________

Jakobus 1:12: ______________________________

1 Petrus 5:4: _______________________________

Openbaring 2:10: ___________________________

Lees nou Openbaring 3:11-12.

Watter opdrag gee Jesus hier vir ons?

Skryf alles neer wat ons volgens hierdie gedeelte in die hemel kan verwag as ons aan Hom en sy waarheid vashou.

Genoeg roomys vir een dag! More kyk ons verder.
Groete,
Lize

1 opmerking:

  1. Daar was nie 'n besprekingsvraag vir vandag nie, maar wat ek wel kan se is dat ek baie keer oor die eienskappe van die hemelse koninkryk lees op 'n manier dat dit my nie so raak nie. Ek is mal oor 'n program: House Hunters International. Ek hou daarvan om te sien hoe lyk die ander lande en hoe leef die ander mense. Miskien kan ek bietjie meer House Hunting oor die hemel doen! Ek is immers nou 'n burger van daardie land en moet al hoe meer daarmee kan identifiseer! En dit sal so definitief my leef hier op aarde positief affekteer!

    AntwoordVee uit