Sondag 19 Oktober 2014

Week 4, dag 5: ‘n Voorbeeld in Stefanus


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees 

“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”
(Handelinge 7:56) 

Doelwitte:
Besef dat die Gees ons geestesoë open
Besef dat die Gees die hemelse koninkryk naby bring 

Vandag kyk ons na ons laaste voorbeeld van lewe deur die Gees. Ons fokus is Stefanus, die eerste martelaar vir Christus. 

Lees Handelinge 7:8-15 en beantwoord die vrae: 

Wat het God vir Stefanus gegee en wat het Stefanus gedoen? 

Hoekom kon die lede van die Sinagoge nie met Stefanus redeneer nie? 

Met watter wysheid het Stefanus gepraat? 
Wat het die lede van die Raad opgemerk toe hulle stip na Stefanus gekyk het? 

Hoekom dink jy het sy gesig so gelyk? 

Aan watter Ou Testamentiese karakter laat dit jou dink? 

Lees Eksodus 34:28-35. Wanneer het Moses gesig geblink? 

Intimiteit met die Here wys! Wanneer Moses by die Here was het sy gesig geblink. Stefanus was deur die Gees naby aan die Here en sy gesig het soos die van ‘n engel gelyk. Dit wys ook op ons gesigte as ons deur die Gees tyd met die Here spandeer! 

Kyk vlugtig na Stefanus se toespraak in Handelinge 7. Dit herinner my nogal aan Petrus se indrukwekkende toespraak met die uitstorting van die Heilige Gees. Dit is belangrik dat ons sal onthou dat Petrus en Stefanus gewone mense soos ons was. Hulle het nie in hul eie kennis, insig en krag opgetree nie maar deur die Gees...dieselfde Gees wat ook nou in jou en in my woon en werk. 

Waarvan beskuldig Stefanus die Raadslede in vers 51? 

Wat was die Raadslede se reaksie op hierdie beskuldiging? (vers 54) 

Hoe word Stefanus in vers 55 beskryf? 

Wat het hy gesien? 

Watter dinge het Jesus volgens Johannes 16:13 gesê sal die Heilige Gees aan ons verkondig? 

Ek kan nie help om ‘n hartseer glimlag te onderdruk as ek aan die Raadslede se reaksie op Stefanus se visioen dink nie. Hulle het geskree en hulle ore toegedruk.  

Ken jy mense wat so reageer op God se waarheid? Hoe beinvloed dit jou vrymoedigheid as jy weet dat mense so sal reageer op jou getuienis? 

Hoekom dink jy het dit geen effek op Stefanus gehad nie? 

Wat het hulle met Stefanus gedoen? 

Met watter woorde het Stefanus gesterwe? 

Dink jy hy het dit waarlik bedoel of dink jy hy het bloot Jesus se woorde aan die kruis nagemaak? 
Hoe dink jy is dit moontlik dat Stefanus vir dié mense wat hy sopas berispe het, wat Christus verwerp het en nou ook besig was om homself dood te maak, kon pleit dat die Here hulle nie hierdie sonde sou toereken nie?
Hoekom dink jy wou Stefanus graag hê dat hulle vrygespreek word? 

Wanneer ons die ware lewe ‘sien’ en dit ontvang in ons denke, ons harte en ons siele verander alles. Ons word los van alles wat aan hierdie aardse bedeling behoort. Wat groot ‘issues’ was word klein. Wat belangrik was word onbelangrik. Die begeertes van ons vlees en sondige natuur wat ons eens ten alle koste moes bevredig, verdwyn soos mis voor die son want al wat nou vir ons belangrik is, is dat God se koninkryk sal kom en sy wil geskied soos in die hemel, net so ook op die aarde. Soos in ons lewens, so ook in ander se lewens. Wanneer ons die ware lewe ‘sien’, sien ons ook die ware God en hoe groot sy genade werklik is, ook in ons eie lewe.  

As jy Stefanus se visioen kon ‘sien’, watter effek sou dit op jou hê, wat sou jy nou anders doen? 

Gaan doen dit dan.
Kies die lewe en leef reeds nou al die ware lewe! 

Ek kan nie wag vir volgende week nie...
Groete,
Lize

5 opmerkings:

  1. Hierdie vraag skok my op twee vlakke. Eerstens skok dit my as ek die visioen voor my 'sien' en besef hoe BAIE dinge ek anders sal doen en tweedens skok dit my om dan te besef hoe ver weg ek steeds van die kennis van hierdie visioen af leef. Lomp gese maar ek dink jullle weet wat ek bedoel.

    AntwoordVee uit
  2. Ja Lize, ek dink dit sal 'n groot skok wees....... maar dink jou net in die groot opgewondenheid die omblik as die besef tot jou deurdring oor wat jy werklik sien......ek dink ek sal in my spore omdraai en nie kan wag om almal te gaan vertel nie.....om hulle aan hulle te hand te wil gryp om te gaan wys wat ek gesien het nie...... soos 'n klein kindjie te wil skreeu: "Mamma, mamma kom kyk!!!!!!"
    Dankie vir week 4 van hierdie studie. AMAZING vir my gewees!!!!!

    AntwoordVee uit
  3. Ek dink ook nou weer aan my opmerking in 'n vorige week dat ek 'n Jesus-boom is. NIE NET 'n appelboom of Net 'n lemoenboom nie, maar 'n JESUS-boom wat AL die vrugte van die Gees dra. Al daardie vrugte moet net ryp word deur die werking van die Heilige Gees. Ek gaan my mooi versorg met die water van die WARE LEWE!!!!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Wat n genade om te besef dat die vrug van die Gees van God in my kan groei!!

      Vee uit