Sondag 19 Oktober 2014

Week 4, dag 4: Wandel in die Gees


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees

“...omdat God julle as eerste vrug gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig en deurdat julle die waarheid glo.”
(2 Thessalonisense 2:13)

Doelwitte:
Besef dat ons vry is om te kies
Verstaan die effek van die Gees op ons gedrag
Verstaan die nou band tussen ons gedrag en die ewige lewe

Vandag se studieles sluit nou aan by gister se les. Gister het ons gekyk na die effek van die Gees op ons verhoudings en vandag kyk ons na die effek van die Gees op ons gedrag. Ons gedrag bepaal wat in ons verhoudings aangaan! As die Heilige Gees eenheid bewerk, dan bewerk dit ook ‘n nuwe hartsgesindheid en nuwe gedragspatrone in ons lewens. Kyk weer na ons inleidingsvers hierbo. Om geheilig te word beteken om vir God afgesonder te word en om skoongewas te word. Dit dui op ‘n heiligmaking van beide ons harte en ons lewens. Kom ons kyk hoe dit werk:

Lees Galasiërs 5:13-26 en beantwoord die vrae (hou maar ‘n boekmerk by Galasiërs 5 omdat ons vandag gereeld gaan terugkeer na hierdie Skrifgedeelte):

Hoe beskryf Paulus die hele wet van God in vers 14?

Hoe stem dit ooreen met wat ons gister rakende die Heilge Gees se werking geleer het?

Kan die Gees van God ooit teen die wet van God werk?

Watter gedrag bespeur Paulus egter in vers 15?

Wat is die praktyke van die sondige natuur?

Sou jy sê hierdie praktyke bewerk eenheid of verdeeldheid tussen mense?

Is daar enige van hierdie gedrag in jou eie lewe en die mense om jou se lewens sigbaar?

Dit is belangrik om te verstaan dat ek en jy in Christus nuwe mense is. Waar ons voorheen vyandiggesind was teenoor God en sy gebooie, het ons Hom nou lief en strewe daarna om volgens sy wil te leef. Ons gees wat dood was en afgesny van God as gevolg van die sonde, is nou deur die Heilige Gees nuutgebore. Tog het die sonde nie verdwyn nie. Ons sondige natuur leef voort in ons vlees. Daarom is daar nou ‘n stryd tussen ons vlees en ons gees.

Lees 1 Petrus 2:11 hieronder en beantwoord die vrae:

“Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle...julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die siel.”

Praat Petrus hier met sondaars of gelowiges?

Waarvan moet hulle hulle weerhou?

Wat doen hul liggaamlike begeertes?

Lees nou Romeine 8:16 hieronder en beantwoord die vrae:

“Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Met watter Gees is ons wedergebore gees nou in ‘n verbondenheid?

Kyk terug na Galasiërs 5. Wat sê vers 17 van die verhouding tussen die sondige natuur en die Gees van God?

Waar laat hierdie situasie ons? Ons bevind ons nou in ‘n posisie waar ons God liefhet en Hom wil behaag, terwyl ons sondige natuur steeds daar is en ‘n styd voer teen ons nuwe lewe en nuwe begeertes! Wat kan en moet ons doen?

Kyk weer na Galasiërs 5:13. Waartoe is ons geroep?

Dink terug na ons eerste week van studie oor die ware lewe. Vryheid impliseer keuse en keuse verg die aksie om te kies. Adam en Eva het teen God gekies en daardeur slawe van die sonde geword. Dit beteken hulle kon daarna nie teen sonde kies nie, hulle kon nie vry van sonde wees nie. Jesus het daarom in die vlees die sonde kom oorwin en deur sy bloed ons vrygekoop en vrygemaak. Hy het my en jou kom plaas in die posisie waar ons weer kan kies. Ons kan kies om ons steeds te laat lei deur ons sondige natuur of ons kan kies om ons te laat lei deur die Gees van God wat Hy ons geskenk het toe ons Jesus as ons Verlosser aanvaar het.

Watter waarborg kry ons in Galasiërs 5:16?

Wat doen die Gees volgens Titus 2:11-13?

Kyk weer terug na Galasiërs 5:24. Wat moet die gelowige doen?

Hoe stem dit ooreen met wat Jesus gesê het in Mattheus 16:24-25?

As ons ons sondige natuur gekruisig het, dan word ons lewe deur die Gees beheers. Wat sê Galasiërs 5:25 moet ons doen?

Wanneer ek in ‘n situasie is, reageer my vlees. Miskien voel ek bang. Miskien is ek seergemaak en kwaad vir iemand. Miskien wil ek iets ongeoorloof doen. Die reaksie en die begeerte van die vlees is daar. Tog, omdat ek God se Gees in my het, weet ek wat reg en verkeerd is. Ek weet wat ek moet en nie moet doen nie. Sover het ek nog nie iets verkeerd gedoen nie, ek ervaar net sekere emosies of begeertes. Nou kan ek kies wat of Wie my gedrag gaan bepaal. My sondige natuur of die Gees van God. As ek my sondige natuur gaan toelaat om my gedrag te bepaal gaan dit uitloop op sonde. Ek gaan vreesagtig wees, of ek gaan vergelding soek of daardie ongeoorloofde ding doen. Maar as ek ‘nee’ sê vir my sondige natuur, gaan ek deur die Gees se krag, God se wil doen en dit sal vrug dra in my lewe.

Tot watter mate laat jy toe dat die Gees ook jou gedrag bepaal?

Voltooi Romeine 8:13 hieronder:

“As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die _______ tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n ________ ________ maak aan julle sondige praktyke, sal julle ________.”

Watter waarskuwing kry ons in Galasiërs 5:21?

Wat is die vrug van die Gees volgens Galasiërs 5:22?

Dit my liewe vriende, is die eienskappe van iemand wat reeds hier op aarde die ware lewe ontdek het en dit deur die Gees leef! Kom ons span alles in om voluit deur die Gees te leef.

Tot more,
Lize

3 opmerkings:

  1. Ek het die afgelope weke ‘n geweldige stryd gevoer. My eie-ek (my sondige natuur) het my lewe oorheers en die rippel effek was skrikwekkend! Maar vandat ek hierdie bybelstudie begin het het die Heilige Gees se werking in my lewe my al hoe meer bewus gemaak van die sonde (afguns, haat, jaloesie – net om ‘n paar dinge te noem) Ek het probeer my gedrag regverdig deur die fout by ander te soek behalwe by myself. Prys die Here: Die Gees het my gelei om terug te keer na myself en die fout in my raak te sien. My ervaring vandag is dat as ek net begin dink aan die verkeerde, spring die Gees op sy agtervoete en baklei met alle geweld vir my. Die vrug van die Gees wat ek die sterkste nou ervaar is die Vrug van Vrede!!!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Weet jy waaraan laat dit my dink? Kyk bietjie al die Nuwe Testamentiese briewe...in almal in die begin of aan die einde of beide is die groet van die vrede van Christus vir die lesers. Ek is so bly dat jy dit ervaar!

      Vee uit
  2. Die Skrifgedeelte was vir my eintlik so vars en 'nuut' - ons leef deur die Gees, laat Hy nou ook jou gedrag bepaal. Ek moes mooi daaroor dink en dit kom nou heeltyd terug na my toe wanneer ek in 'n situasie is waar ek voor 'n verkeerde houding of gedragsbesluit te staan kom! Ek het eintlik so min verhoudingskennis van die Heilige Gees in my lewe gehad en ek love dit om Hom nou meer en meer as 'n werklike Helper te leer ken.

    AntwoordVee uit