Sondag 19 Oktober 2014

Week 4, dag 3: ‘n Voorbeeld in die gelowiges

Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 4: Lewe deur die Heilige Gees


“Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam.”
(Efesiërs 4:15b-16a) 


Doelwitte:
Verstaan gelowiges se eenheid deur die Gees
Begryp die belang en volle betekenis van gelowiges se eenheid
Verstaan die gelowiges se toerusting deur die Gees 

Ons het die afgelope twee dae gekyk na die werking van die Heilige Gees in Jesus tydens sy aardse lewe en ook in die dissipels en apostels. Die gevolg van Jesus se lewe asook die dissipels en apostels se lewens was...gelowiges! Elke dag het meer en meer mense hulle harte vir God gegee deur hul geloof in Jesus Christus as Verlosser. Dit was en is God se begeerte en wil – om mense met Homself te versoen. Vir God gaan dit om mense. 

Wat het God belowe volgens Handelinge 2:17-18? 

Is jy ingesluit by hierdie belofte? 

Lees Efesiërs 4:3-4 en vers 15-16 en beantwoord die vrae: 

Wat doen die Gees tussen gelowiges? 

Wie is die liggaam van Christus? 

Hoeveel liggame is daar? 

Wie is in die een liggaam? 

Hoe werk en woon die een God in almal? 

Uit wie groei die hele liggaam? 


Wat leer vers 16 ons van die afsonderlike lede van die liggaam? 

Lees nou 1 Korintiërs 12:12-13 en die ontbrekende woorde in: 

“Omdat ons ________ een liggaam geword het, is ons almal met die _______ _________ gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is ____________ van die een Gees ________.” 

As jy terugdink aan alles wat ons sover oor die Gees geleer het, wat beteken dit vir jou om te weet dat jy van die Gees deurdrenk is? 

Lees 1 Korintiërs 12:4-11 en beantwoord die vrae: 

Wat gee die Gees vir elke Christen? 

Klik op die volgende skakel om die sien wat bedoel word met ‘n ‘genadegawe’: 


Wat word hierdie genadegawes in vers 7 genoem? 

Wat is die doel van hierdie gawes volgens Efesiërs 4:12? 

Uit beide Efesiërs en Korintiërs is dit baie duidelik dat ons deur die Gees een liggaam is en dat hierdie geestelike liggaam ook op ‘n fisiese vlak moet funksioneer. Ek kan my nie van ander gelowiges afsonder terwyl ek myself as ‘deel’ van die liggaam beskou nie. Ek het gawes ontvang wat tot voordeel van die hele liggaam is en so is daar gawes in die liggaam wat tot my voordeel is. Ek moet dus fisies ook deel van die liggaam van gelowiges wees.  

Op watter wyse is jy fisies deel van die liggaam van Christus? 

Volgens Efesiërs 4:13-15, wat is die gevolge wanneer ons as ‘n eenheid funksioneer? 

Mmmm, ek is seker elkeen wat hier lees dink nou aan al die onenigheid tussen die gelowiges. Meer nog, ek is seker elkeen dink nou aan daardie Christene wat so irriterend is, wat die lewe so ‘n taai toffie kan maak! Ek is seker ons kan ons nie indink hoe eenheid met daardie Christene ons meer standvastig sal maak en teen dwaallere beskerm nie! 

Wat is jou gedagtes hieroor? 

Kom ons rig ons gedagtes na wat bo is, na die groter konsep van daardie lewe wat waarlik lewe is en waarna ons strewe. 

Lees Johannes 17:20-23 en beantwoord die vrae: 

Wanneer Jesus hier bid dat ons as gelowiges een mag wees, gebruik Hy ‘n voorbeeld: “...net soos...” Na watter eenheid verwys Hy? 

Wat kan jy uit ons eerste week van studie onthou rakende die eienskappe van hierdie eenheid? 

In vers 22-23 bid Jesus weer dat ons een mag wees en gebruik weer ‘n ‘soos’ vegelyking. Hoe verskil dit van die vorige een waarna ons hierbo gekyk het? 

Wil jy graag deel in die liefde en lewe wat daar in die drie-enige Godheid bestaan? 

Dink jy dit is God se plan vir ons om as individue daarin te deel of as een liggaam van gelowiges? 

Kom ons kyk terug na Efesiërs 1:10-11 hieronder: 

“Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het.”

Wat is God se vooruitbestemde doel? 

Waarvan is jy nou deel? 

My liewe vriend of vriendin, as ek en jy aan die ware lewe wil deel hê, moet ons deel hê aan God se volk, aan Christus se liggaam. Ek en jy kan nie op ons eie volgens God se wil funksioneer nie. Ons kan slegs as een liggaam funksioneer. Dit is God se doel.  

Kom ons sluit vandag vroeg af met 1 Johannes 4:11-12: 

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.” 

Watter wrok, watter kwaad, watter irritasie weeg op teen die wonder van God in my.

Watter doel bereik ek deur onenigheid, wat groter is as om God se doel in my volkome te bereik? Wat is die maklikste, om God se Gees te weerstaan en die ware lewe en gemeenskap met die ware God prys te gee, of om die Gees toe te laat om in my te werk en om te vergewe en in vrede en eenheid te leef tot eer van God die Vader?  

In die lig van God se groter doel waarvan ek wil deel wees, is dit belangriker vir my om God se Gees toe te laat om eenheid tussen my en ander gelowiges te bewerkstellig eerder as om hardnekkig aan my eie regte en voorregte vas te klou ten koste van eenheid. 

Liefdegroete,
Lize

3 opmerkings:

  1. My gedagtes presies oor die onenigheid wat mede Christene volgens my veroorsaak!!! En ek is nie onskuldig nie…… Maar ek het oor die laaste paar weke en dae geleer dat ek moet toelaat dat die Heilige Gees in my hart en denke werk. As die Heilige Gees my lewe vervul sal ek nie kan toelaat dat kwaadstokery, haat, afguns, jaloesie vastrap plek in my denke kry nie. Ek sal ook die gedagtes wat ek koester oor die verkeerde dinge, wat ander van my dink; hoe laag en gemeen ek dink ander is ens. kan skoon hou met goeie gedagtes. My optrede teenoor “daardie Christene” sal dan ook ‘n spieelbeeld van Christus wees en ek is seker dat die Heilige Gees ook so deur my sal kan werk om die goeie in hulle te sien. Eenheid sal dan ook so gevorm word met hulle deur die werking van die Heilige Gees.

    Dankie Lize vir hierdie wonderlike studie. Dit is net op die regte tyd in my lewe geplaas. Sjoe, elke dag is 'n "eye opener" en kan ek nie genoeg kry nie. My denke word vernuwe en ek is dank God vir sy Heilige Gees wat opnuut in my werk. Ek voel sommer WOW!!!!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie, ek is altyd dankbaar as die Here mense se harte en lewens aanraak in sy groot genade. Die Bybelstudie help my ook ongelooflik baie in die besef dat die ware lewe reeds hier op aarde geleef kan en moet word. Elke keuse wat ek maak moet ek maak vir lewe en vir God :-)

      Vee uit
  2. My gedagtes oor eenheid in die liggaam: Ek besit 'n wonderlike klassieke Christelike boek. Ongelukkig het die outeur van die boek blykbaar volgens navorsing wat ek gedoen het, al hoe meer 'new age' geraak in haar denke sodat in later jare, Christen boekwinkels nie meer haar daaropvolgende boeke wou aanhou nie. Ons moet in 'n liggaam wees sodat daar 'accountability' is. Dit is so maklik om amper ongesiens subtiel jou eie geloofsidees te begin vorm. Wanneer ek deel is van 'n liggaam, word ek tot verantwoording geroep. Tweedens is dit belangrik om deel te wees van die liggaam en om tot die eenheid van daardie liggaam te werk. Dit is immers tussen mense waar ons ons geloofsbeginsels van vergifnis, diens, verdraagsaamheid, geduld ensovoorts moet uitleef. Teenspoed soos siekte, rampe, finansiele krisisse en VERHOUDINGS is die dinge waar my geloof of gaan groei en versterk word omdat ek leer om God in daardie situasies te gehoorsaam of waar my geloof aangeval gaan word omdat ek in daardie moeilike situasies God se leiding ignoreer. Dit is nie maklik nie maar dit is 'n keuse en hoe meer ons God in hierdie situasies gehoorsaam en in sy krag optree, hoe meer van die ware lewe begin in en uit my borrel. God se plan is GOED!! Dit is nie bedoel om ons skade te berokken nie. Daarom kan ek sy leiding in hierdie situasies vertrou :-). Oswald Chambers se daar is dinge en leerstellings wat ons nie met ons intellek kan verstaan nie, ons kan dit slegs verstaan deur gehoorsaamheid daaraan. Dit is waar ook met verhoudings. Ons verstaan nie vergifnis en verdraagsaamheid en liefde met ons intellek nie, dis wanneer ons dit begin kies en gehoorsaam dat ons begin verstaan hoe kragtig dit werk!

    AntwoordVee uit