Sondag 12 Oktober 2014

Week 3, dag 1: God se geheim geopenbaar


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 3: Lewe in Christus

“Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort.”
(Kolossense 1:26)

Doelwitte:
Om uit te vind hoe ons na die sondeval weer deel kan hê aan die ware lewe wat in God is.
Om God se geheimenis te verstaan.

Ons is amper by die halfpad merk in ons studie en as jy nog steeds hier is, is ek baie trots op jou! Jy sal nou al agtergekom het dat hierdie studie harde werk is omdat ek ‘n proses van induksie volg. In plaas daarvan dat ek bloot al my idees oor ons tema neerpen en julle dit lees, kyk ons saam na ‘n KLOMP Skrifgedeeltes en gebruik relevante vrae om die betekenis en toepassing daarvan vir onsself te ontdek.

In ons eerste week het ons inleidend gekyk na die lewe wat God ons in sy groot liefde geskenk het. Ons het gesien dat dit anders is as die lewe wat Hy aan diere of plante gegee het. Dit is ‘n lewe na sy beeld en dit sluit ons in by die groter konsep van die lewe wat aan God behoort van alle ewigheid af en tot in alle ewigheid.

In week 2 het ons egter ook gesien dat daar ‘n vyand is met sy eie offer van lewe op die tafel. Dit is ‘n offer wat drasties verskil van en lynreg staan teenoor God se offer van lewe. Vandat die mensdom die eerste keer Satan se offer van lewe bo dié van God gekies het, is ons in ‘n lewenstryd gewikkel. Paulus verwoord dit mooi in Romeine 7:22-24:

“Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”

Dit is mos presies die tema en doel van ons Bybelstudie – ons is opsoek na daardie lewe wat waarlik lewe is. Ons wil nie ‘n lewe leef wat eintlik ‘n doodsbestaan is nie! Ons weet dat die ware lewe van God af kom maar, na die sondeval, hoe gryp ons dit aan? Hoe word dit die hoofeienskap van my daaglikse aardse bestaan? Hoe kan ons weet dat ons nie dalk opeindig met die valse lewe wat Satan offer nie? Soms voel die lyn tussen die twee so maklik om oor te steek.

Tog is daar hoop. Die God van lewe, Hy wat van alle tye af bestaan, het van alle tye af ‘n geheim...die geheim tot die ewige en ware lewe. Wie hierdie geheim het, het daarmee saam die sleutel wat die Koninkryk van God oopsluit! Vir eeue en geslagte lank was hierdie geheim verborge vir die mensdom wat teen God gekies het.Vir eeue en geslagte lank was die mense siende blind en horende doof sodat hulle nie kon verstaan dat God weer vir ons ‘n deur oopmaak tot die ware lewe nie. Maar op die regte tyd het die God van liefde sy geheim aan die mensdom openbaar.

Lees Kolossense 2:2-3 en vul die ontbrekende woorde hieronder in:

Die geheimenis is ______________, en ____ _______ is al die verborge __________ van wysheid en kennis te vind.

Wie is God se geheim tot die ewige en ware lewe?

Wat vind ons in Christus?

Na watter wysheid en kennis dink jy verwys hierdie verse?

Lees die volgende twee Skrifgedeeltes en beantwoord dan die vrae:

“En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.”     (1 Johannes 5:20)

“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes 17:3)

Watter vier elemente word telkens in beide verse met mekaar verbind?

Aksie/werkwoord:___________________
Persone: ____________________ en  _________________
Resultaat: ___________________

Hoe word God in hierdie verse beskryf?

Van wie af kom die Seun?

Wat het die Seun vir ons kom gee volgens 1 Johannes 5:20?

Kyk mooi na 1 Johannes 5:20. In wie is ons eerstens? In wie is Hy? Omdat Hy daar is, en omdat ons in Hom is, in wie is ons dus deur Hom?

Lees Johannes 14:7-10.

Vogens hierdie Skrifgedeelte, hoe ken en sien ons die Vader?

Hoe wou Filippus die Vader sien?

Wie het Jesus gesê ken Filippus nie?

Wat het Jesus daarmee bedoel?

Is dit moontlik om ‘n pad met Jesus te stap sonder om Hom te ken?

Wat dink jy maak die verskil tussen om Jesus oppervlakkig te ‘ken’ en om Hom waarlik te ken?

Waaruit bestaan jou ken van Jesus?

Kan jy op enige manier met Filippus identifiseer? Hoe?

Wie se woorde en werke word in en deur Jesus geopenbaar?

Lees Hebreërs 1:1-3a hieronder:

“In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.”

Klik op die skakel hieronder om te sien wat met die woord ‘ewebeeld’ in hierdie vers bedoel word.


Kan jy aan enige voorbeelde uit die Ou Testament dink wat heenwys na die Verlosser wat sou kom?

Vul die ontbrekende woorde van Kolossense 2:17 hieronder in:

“Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die ____________ is ___________.”

Lees nou Kolossense 1:19 hieronder:

“God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen.”

Hoeveel van die ware God  is daar in Jesus Christus?

Nie een van die mense of tipes in die Ou Testament wat heengewys het na ‘n Verlosser, was die werklikheid nie. Hulle was net voorbeelde. Nie een van die rituele wat heengewys het na die Verlosser se verlossingsdaad was die ware Jakob nie, dit was alles bloot voorbeelde. Christus IS die Verlosser. Hy IS die Seun van God. Hy IS die erfgenaam. Hy IS die Een deur wie God ons met Homself wil versoen. Hy IS die werklikheid.

Vul die ontbrekende woorde van Kolossense 2:9-10 in:

“In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom ______ julle in sy ___________.

Ek en jy deel in die volheid van God die Almagtige. Ek en jy deel in die volheid van lewe wat daar in Hom is. Ek en jy kan Hom ken. Hy het Homself kenbaar gemaak deur sy Seun. Ons werklikheid, ons hoop op dit wat werklik en ewig is, ons hoop op daardie lewe wat waarlik lewe is, is gewortel in Jesus Christus. Dit is God se geheimenis wat Hy nou openbaar gemaak het. Kolossense 1:27 sê “God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”

Ek en jy het ‘n lewende, werklike en vaste hoop en daardie hoop is Christus. Nie godsdiens nie, nie goeie werke nie, nie Christus se leerstellinge nie, nie gebed nie...nee, ons hoop is die Persoon Jesus Christus. Al verstaan ek niks van ingewikkelde leerstellinge of godsdienstige tradisies en redenasies nie maar ek glo in die Persoon Jesus Christus as die volheid van God se genade vir my...dan is ek saam met Hom ook God se erfgenaam van die ewige lewe!

Kom ons sluit af met Johannes 10:28-30:

“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.”
 

Amen!
Tot more dan,
Lize

1 opmerking:

  1. Hmmm, nie so maklike vraag nie. Baie van ons Christene 'ken' Jesus. Ons ken sy verhaal, ons ken sy leerstellinge ten minste redelik. Maar ons ken nie noodwendig sy krag en volheid van lewe nie. Ek dink die enigste manier om Jesus te ken is deur 'n daaglikse verhouding met Hom te he maar 'n verhouding met substansie in die sin van ons gehoorsaam Jesus se opdragte soos in die Woord vir ons gegee. Ek dink as ons werklik dit begin doen, sal ons werklik Hom begin ken en ook die krag van die lewe wat daar in Hom is. Hier het ook ek baie groei nodig.

    AntwoordVee uit