Sondag 05 Oktober 2014

Week 2, dag 5: Uiteinde van 'n lewe uit Satan se hand


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 2: Lewe as ‘n offer uit die hand van die vyand


“Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.”
(Psalm 73:16-17)


Doelwitte:
Bepaal die verskil tussen gelowiges en goddeloses se lewens
Bepaal die bron van wanhoop en die bron van hoop

Vandag kyk ons vir oulaas na lewe as ‘n offer uit die vyand se hand. Ons fokus is daardie mense wat hierdie offer aanvaar. ‘n Mens sal dink dat so iemand se lewe altyd ‘n groot gemors moet wees. Ons het dan juis gister gesien hoe vals en sleg en boos Satan is en dat hy niks goed kan offer nie. Tog is dit nie altyd opsigtelik so nie.

Lees Psalm 73:1-14 en hou eers jou Bybel daar oop.


Ken jy goddelose mense (mense wat God verwerp) wie se lewens voorspoedig voorkom?


Ken jy goddelose mense wat skynbaar heel gelukkig en normaal met hul lewe voortgaan?


Ken jy goddelose mense van wie jy selfs hou?


Dink jy jou lewe het meer, minder of dieselfde hoeveelheid probleme as dié van goddeloses?

Wat dink jy is die grootste verskil tussen ons lewe en die lewe van goddelose mense?

Lees die res van Psalm 73.


Wat is die uiteinde van iemand wat God aanhou verwerp?


Waar was Dawid toe hy besef het wat die uiteinde  van die goddeloses is?


Hoekom dink jy kon hy op daardie plek tot die ware insig kom?


Lees Psalm 27:4.

In die Engelse vertaling lees dit: “...that I may dwell in the house of the LORD...to gaze upon the beauty of the LORD.”

Eers as jy die skoonheid en die wonder en die lig van God aanskou het, besef jy hoe donker dit weg van Hom af is! God het egter vir almal van ons, dié wat naby aan Hom is en dié wat Hom verwerp, dieselfde waarskuwing:

Lees Genesis 4:7 en vul die ontbrekende woorde hieronder in:


“Wag daar nie vir jou _____________ as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die __________ wag jou in ____________ en hy wil jou in sy ________ kry. Maar jy moet oor hom __________.


Watter plek dink jy staan teenoor  die ‘daarbuite’ wat hier in Genesis 4:7 genoem word?

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld van iemand wat Satan se offer aanvaar het.

Skryf alles neer wat jy weet van Judas Iskariot.


Hoeveel van Jesus se lering en bediening op aarde het Judas beleef?


Lees Johannes 12:4-6.

Wat sê dit vir ons van Judas?


Vir watter verleiding het hy geval?


Waarvoor het dit hom blind gemaak (alhoewel Maria dit kon sien)?


Lees Mattheus 26:14-16.


Wat het Judas besluit om te doen?


Watter gebeurtenis word direk voor Judas se besluit genoem? Kyk na Matteus 26:6-13.


Hoe dink jy kon dit bygedra het tot Judas se besluit?


Dink jy jaloesie kon ook ‘n rol gespeel het?

Ek wil graag hê dat ons na Romeine 6:19 in die NIV(Engelse) vertaling moet kyk omdat die Afrikaans dit net nie reg sê nie:

“Just as you used to offer the parts of your body in slavery to impurity and to ever-increasing wickedness...”

Kyk na die frase wat ek onderstreep het. Wat leer ons in hierdie Skrifgedeelte oor die aard van goddeloosheid (wickedness)?


Wat sê Lukas 22:3 van Judas?


Lees nou Mattheus 27:1-5 en beantwoord die volgende vrae:


Hoe het Judas gevoel toe hy sien dat Jesus tot die dood veroordeel is?


Wat het hy daarna gedoen?


Voor wie het hy sy sonde bely?


Wat was hulle antwoord?


Wat het Judas toe gedoen?


Lees Psalm 51. Wat dink jy was die verskil tussen Judas en Dawid?

Judas het nie verstaan dat God ‘n God van lewe is nie. Hy het nie die Goeie Boodskap verstaan wat Jesus gebring het nie. Hy was siende blind en horende doof. Daar was in hom geen hoop op lewe nie...hy kon net dood en duisternis sien en het hom in wanhoop daaraan oorgegee. Selfs in Judas se berou, kon hy nie die lewe kies nie. Ons darenteen sluit hierdie moeilike week af met hoop! Lees Kolossense 1:21-23 en vul die ontbrekende woorde in:


“Ook julle was voorheen _____ van God af en ______________ teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself __________ deurdat sy ________ as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die __________ en julle nie laat losruk van die ___________ wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie.”

Tot volgende week wanneer ons kyk na Lewe in Christus!

1 opmerking:

  1. Ek dink die verskil is eerstens hoe ons dinge benader...hetsy sukses of rou of swaarkry. Ons leef en beleef dit in die teenwoordigheid van die Here. Selfs al is jy 'kwaad' vir die Here, woed jy dit met Hom uit. Ek kan niks in my lewe skei van die werklikheid van Sy bestaan nie. Hy is my hoop en my anker en my hele verstaan van die lewe le in Hom opgesluit. Tweedens is ons uiteinde verskillend. Al maak ek nog foute in hierdie bedeling, my hoop is op Hom wat die ewige lewe vir my bewerk het.

    AntwoordVee uit