Sondag 05 Oktober 2014

Week 2, dag 4: Wie offer lewe wat eintlik die dood is?


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 2: Lewe as ‘n offer uit die vyand se hand 

“Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
(Jesaja 5:20) 

Doelwitte:
Ontmasker Satan se bose aard deur na sy name in die Bybel te kyk
Besef dat Satan met sy bose aard geen ware lewe kan offer nie 

Ek weet nie van jou nie, maar soos wat ons vorder hierdie week, voel ek ‘n kwaad en ‘n woede in my opbou teenoor die een wat dood as lewe en duisternis as lig voorhou! Vandag is die dag dat ons hom ontbloot vir wie hy is. 2 Korintiërs 11:14 sê, “...Satan vermom hom as ‘n engel van die lig,” maar vandag sal ons uit die Woord sy masker afruk sodat ons kan sien wie hy werklik is. Soos wat dit belangrik was om te kyk na die lewe en liefde wat in God is sodat ons kan verstaan wat Hy ons offer, so is dit belangrik dat ons sal sien wie Satan is sodat ons kan verstaan wat hy ons offer, ongeag van hoe ‘goed’ dit klink of lyk!  

Die metode wat ons sal volg is bloot om na van die name te kyk wat die Bybel gebruik om na Satan te verwys. Sy name is sprekend van sy karakter, motiewe en metodes en ‘n verstaan daarvan sal ons ook help om te begryp hoe hy in elkeen van ons se eie lewens probeer werk. 

Kyk telkens na die betekenis van die woorde hieronder wat in die Bybel gebruik word om na Satan te verwys en beantwoord die vrae wat daarop volg. (Die betekenisse is nie afkomstig van ‘n Afrikaanse vertalende woordeboek nie maar van Strong se leksikon van die oorspronklike Hebreeuse of Griekse woorde of andersins bloot volgens Bybeltekste self).  

Satan: Die woord ‘satan’ beteken teenstander. 

Satan staan nie aan God se kant nie. Satan staan God teë asook alles wat God bewerk. Dit beteken ook dat hy die lewe van Christus in mense teëstaan, dat hy ons groei in Christus teëstaan en dat hy veral ook ons oorwinning in Christus teëstaan.  

Het jy eerstehandse ervaring van die teenstander?  

Waar en hoe staan hy die lewe van Christus in jou teë? 

Lees Romeine 8:31 en skryf dit neer. 

Openbaring 20:7-10 vertel van die laaste keer dat Satan Christus en sy geliefdes teëstaan. Wat is die uiteinde daarvan? 

Die Bose: (Mattheus 6:13 en Mattheus 13:19) Iemand wat pyn en moeilikheid veroorsaak; iemand met ‘n slegte geaardheid; iemand wat sleg, boos en goddeloos is. 

Watter tipe lewe dink jy kan ‘n mens verwag as jy iemand navolg wat sleg, boos en goddeloos is? 

Dink jy dat jy enigsins ‘n ooreenkoms of vriendskap hoe gering ookal met so iemand kan aangaan? 

Kan jy staatmaak op iemand wat ‘n slegte en bose geaardheid het of enige iets glo wat hy sê? 

Is daar ‘n groot genoeg afstand in jou lewe tussen jou en die Bose? 

Duiwel: Die Griekse woord ‘diabolos’ verwys na ‘n lasteraar, iemand wat valslik beskuldig. Laster is die opsetlike skending van iemand se karakter sonder om bewyse te kan aanvoer.  

Lees Genesis 3:1 en 4. Op watter manier slaag Satan daarin om God te laster en sy karakter in Eva se oë te skend? 

Het Satan God al ooit voor jou gelaster? Op watter wyse? 

Is jy al ooit gelaster hetsy deur iemand anders of deur jou ‘eie’ gedagtes? 

Glo jy hierdie woorde of gedagtes van laster teen jou? 

Dink jy dit is moontlik om die ‘ware lewe’ te beleef terwyl jy Satan se laster teen jou glo? 

Wie is die bron van alle laster hetsy deur die woorde van ander of in jou eie gedagtes? 

Is laster ware beskuldigings of valse beskuldigings? 

Lees Titus 3:6-8. Hoekom is enige beskuldigings teen ons vals indien ons Christus as ons Verlosser bely? 

Leuenaar: Lees die gedeelte uit Johannes 8:44 hieronder: 

“...hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar en die vader daarvan is.” 

Hoeveel waarheid is daar in Satan of enige iets wat hy sê? 

Ek en jy moet Johannes 8:44, Jesus se eie woorde, uit ons koppe ken en onthou wanneer daar ‘n aanval van Satan af kom – daar is GEEN waarheid in hom nie. 

Aanklaer: (Openbaring 12:10) Iemand wat ‘n ander persoon voor ‘n regter aankla. 

Lees Sagaria 3:1-4. Wie is die aanklaer, wie kla hy aan en wie is die Regter? 

Wat is die Regter se reaksie teenoor die aanklaer? 

Hoe beskryf die Regter die persoon wat aangekla word? 

Hoe het Jesua se klere gelyk? 

Het jy al ooit gevoel of jy ‘n stuk hout is wat uit die vuur gered is? 

Voel jy soms asof jy in ‘vuil klere’ gehul is? 

Wat sê die Here vir Jesua in vers 4?  

Lees 2 Timotheus 4:8 en vul die ontbrekende woorde in: 

“Nou wag die ________________ van geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige __________, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir _______ wat na sy koms uitsien.” 

Sien jy uit na die Here se koms?  

Verleier of versoeker: (1 Tessalonisense 3:5) Iemand wat veroorsaak dat ander afdwaal, om ander op ‘n dwaalpad te lei, om iemand van die waarheid te laat afdwaal, om iemand te mislei, om ander te verlei om te sondig, om iemand se geloof te toets deur hulle op ‘n kwaadwillige en slinkse wyse te verlei. 

Wat is ‘n verleiding in jou eie lewe? 

Wat is die doel van ‘n verleiding? 

Hoe het Jesus die Satan se verleiding in die woestyn weerstaan? (Mattheus 4) 

Moordenaar: Lees die gedeelte uit Johannes 8:44 hieronder: 

“Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar...” 

Hoekom sê Jesus dat Satan van die begin af ‘n mensemoordenaar was? 

Waarvan ontneem ‘n moordenaar ‘n mens? 

Ek weet nie van julle nie, maar ek het nou genoeg van Satan geleer. Ek smag na ‘lewensasem’! Kom ons sluit af met Jesus se woorde in Johannes 10:10.  

“’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.” 

Tot more,
Lize

1 opmerking:

  1. Nee beslis nie! Satan het twee dinge teen my gebruik. Vrees en die gevoel dat ek nie goed genoeg is nie. Hy het my gelaster. Ek moet heeltyd daarteen waak. Nadat ek my boek geskryf het het ek skielik weer so 'n gevoel ervaar dat ek nie goed genoeg is nie. Dit het my selfvertroue geknou ten opsigte van my hele bediening. Ek wou met alle mag uit al my bedienings klim! Gelukkig, omdat ek weet waar dit vandaan kom, kon ek dit beveg...maar ek weet dat die aanval van Satan fel kan wees en dat dit onmoontlik is om voluit in God te leef as ek met een oor na Satan luister!

    AntwoordVee uit