Sondag 05 Oktober 2014

Week 2, dag 3: Lewe as 'n blatante leuen


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 2: Lewe as ‘n offer uit die vyand se hand
 
 
“Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie.”
(2 Konings 18:32c)
 
 
Doelwitte:
Herken Satan se taktiek om ons vertroue in God te skend
Weerstaan Satan se uitnodiging om op hom te vertrou
Weet hoe om Satan te kan weerstaan


Soms sê die Engelse vertalings van die Bybel iets net soveel meer treffend. Vandag se inleidingsvers in een so ‘n geval. In die NIV (New International Version) word bogenoemde vers so vertaal:
 
“Choose life and not death”
 
Kies die lewe en nie die dood nie! Hierdie woorde het ons al uit die mond van Moses gehoor...maar nou kom dit uit die mond van die vyand! Ja, die vyand wil ook hê dat ons ‘lewe’ kies en nie die ‘dood’ nie. Die ‘lewe’ wat hy egter wil hê dat ons moet kies, is ‘n blatante leuen. Dit wat hy ‘lewe’ noem is in werklikheid die dood.
 
Lees 2 Konings 18:13 – 2 Konings 19:37. Ek weet dit is ‘n lang gedeelte om te lees maar dit is ‘n boeiende verhaal en nodig vir die verstaan van vandag se les. Dit is ook ons hoofteks so hou jou Bybel daar oop.
 
Watter boodskap gee die vyand in 2 Konings 18:30 en 2 Konings 19:10 vir die Israeliete?

 

Hoe stem dit ooreen met dit wat die Satan in Genesis 3:4-5 hieronder vir Eva gesê het?
 
“Toe sê die slang vir die vrou: ‘Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.’”
 
Wat dink jy wil die vyand bereik deur ons vertroue in God te skend?

 

Satan kan baie oortuigend wees veral as hy met ‘n stukkie van die waarheid na ons toe kom. Watter ware feite gebruik die vyand in 2 Kon 18:33-35 en 2 Kon 19:11-13 om die Israeliete mee te oortuig?

 

Wat is die Israeliete se reaksie hierop in 2 Kon 18:36?

 

Wat is Koning Hiskia se reaksie in 2 Kon 19:17-18?

 

Wat is God se reaksie in 2 Kon 19:25?
 
Het die vyand dit al een of meermale reggekry om jou vertroue in God te skend? Indien wel, watter effek het dit op jou gehad en het dit nog steeds ‘n effek op jou lewe?
 
Ten einde hulle ‘lewe te verseker’, met wie moes die Israeliete volgens 2 Kon 18:31 vrede maak?

 

Lees Numeri 13:32- Numeri 14:4 (toemaar dis net 6 versies) en antwoord die volgende vrae:

 

Met wie wou die Israeliete gaan vrede maak toe hulle hul vertroue in God verloor het?

 

Wat was hulle vorige posisie in Egipte?
 
Wanneer ons ons vertroue in God verloor, maak ons soms vrede met die ‘vyand’ en is ons gewillig om sy slawe te bly. Baie keer het ons alle hoop verloor dat God ons enigsins uit ons situasie kan red en aanvaar ons dit wat die vyand ons offer. So maak ons vrede met verslawings, gebroke verhoudings, vrese en dies meer.
 
Het jy op enige wyse in jou lewe met die vyand vrede gemaak? Wees so spesifiek as moontlik in jou antwoord.

 

Lees 2 Korintiërs 6:14b hieronder:
 
“Of watter verband kan daar wees tussen lig en duisternis?”
 
Moenie een dag langer vrede met die vyand probeer handhaaf nie, wat hy offer is nie lewe nie, maar die dood. Kom ons hou eerder vas aan die woorde van Mattheus 4:16  “Die volk wat in duisternis woon het ‘n groot lig gesien; vir hulle wat in die gebied en skadu van die dood leef, het ‘n lig opgegaan.”
 
Wat word die Satan genoem in Mattheus 4:3 hieronder?
 
“Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê...”
 
Watter twee opeenvolgende dinge offer die vyand aan die Israeliete in  2 Kon 18:31 en 32?

 

Wat offer die Satan aan Jesus in Mattheus 4:8-9 hieronder?
 
“Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: ‘Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.’”
 
Hoe het Jesus die Satan se versoeking oorwin?

 

Watter raad gee Jakobus 4:7 ons?
 
As Satan met sy blatante leuen van lewe kom, weet dan om hom te weerstaan. Daar is net Een wat lewe kan gee en dit is God die Vader deur sy Seun Jesus Christus!
 
Groete tot more
Lize

1 opmerking:

  1. As kind het my pa soms flou geword selfs op die kansel. 'n Man het eenkeer by die kerk 'n hartaanval gehad en gesterf. 'n Vriendin se man is oorlede terwyl sy swanger was. Geliefdes se gebede vir genesing is nie beantwoord nie. Op 'n manier het ek vertroue verloor dat God fisies red. Ek het gevrees vir onheil om my te tref. Onheil gedagtes kon my maklik teister. Ek wou heeltyd in beheer wees en seker maak ek kan 'n moontlike krisis-situasie hanteer. Ek het intussen geleer dat God wel red en dat selfs al werk Hy dinge nie uit soos ek dit wil he nie, dat Hy altyd daar is en die nodige 'manna' of krag gee om die situasie te kan hanteer. Nou kan ek vir Satan se vreesgedagtes se: Nee, ek vat dit nie, dit is 'n leuen omdat dit nog nie gebeur het nie. Dis bloot gedagtes. Wanneer dit wel gebeur en dit nie net gedagtes is nie maar feit, sal ek dit uit God se hand uit neem en Hy sal my die nodige leiding, troos en krag gee vir welke situasie. Ek groei nog, maar dit het my baie gehelp!

    AntwoordVee uit