Sondag 05 Oktober 2014

Week 2, dag 2: 'n Lewe van genot


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 2: Lewe as ‘n offer uit die vyand se hand


“Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!”
(Spreuke 9:17)
 
Doelwitte:
Bepaal die verskil tussen aardse wysheid en wysheid wat van God af kom.
Identifiseer dit waarmee Satan ons verlei
Identifiseer die gevolge daarvan om vir Satan se verleiding te val
 

Gister het ons gekyk na die lewe van self-liefde wat Satan aan ons voorhou. Vandag se tema sluit nou daarby aan –  ‘n lewe van plesier en self-genot teenoor ‘n lewe wat ag slaan op die wysheid van die Here. Die Skrifgedeeltes waarna ons gaan kyk kom uit Spreuke 2-9. In hierdie gedeelte waarsku Salomo sy  seun teen die verleiding deur ‘n slegte vrou. Verder moedig hy hom aan om eerder wysheid na te jaag en nie sommer enige ‘wysheid’ nie, maar die wysheid wat begin met die dien van die Here – wysheid wat dus van God afkomstig is.

Op ‘n meer figuurlike vlak gesien is die gedrag van die slegte vrou in hierdie gedeelte vir my sprekend van Satan se optrede in die Tuin van Eden. Hy kom na Eva toe en wek in haar ‘n begeerte. Hy mislei en verlei haar met die belofte en vooruitsig van iets wat vir haar goed en lekker sal wees – om kennis te kan hê en dus soos God te kan wees. Ironies dat hierdie wysheid haar juis beroof het van die ware wysheid van God, want om dié wysheid te kon bekom, moes sy die wysheid van God verloën en aan Hom ongehoorsaam wees.

Lees Jakobus 3:13-17 en beantwoord die volgende vrae:


Hoe beskryf vers 15 die wysheid wat nie van God af kom nie?

Kyk na die volgende definisie van sinlik: Sensueel, wulps, wellustig.

Volgens hierdie definisie, wat dink jy is die hoofdoel en fokus van hierdie tipe wysheid?


Wat het hierdie tipe wysheid tot gevolg? (vers 16)

Kyk na die definisie van selfsug: Begeerte of drang om net jou belange te bevorder.

Hoe verskil dit van die wysheid wat van God afkom? (vers 17)

Noudat ons die verskil tussen aardse wysheid en die wysheid van God begryp kan ons na ons hoofteks in Spreuke blaai. Soos Satan vir Eva, verlei die slegte vrou in Spreuke die man met allerhande beloftes van genot.

Lees die volgende verse en skryf teenoor elkeen neer waarmee sy hom verlei:


Spreuke 5:3 _______________________________________________________________

Spreuke 6:25 ______________________________________________________________

Spreuke 7:17-18 ___________________________________________________________

Spreuke 7:21 ______________________________________________________________

Spreuke 9:17 ______________________________________________________________


Waarmee kan Satan jou maklik verlei?


Watter begeertes wek Satan in jou deur sy verleidelike praatjies?


Lees die volgende verse en skryf teenoor elkeen die uiteinde daarvan om voor die slegte vrou se verleiding te swig:


Spreuke 2:18 ____________________________________________________

Spreuke 5:4 _____________________________________________________

Spreuke 5:5 _____________________________________________________

Spreuke 5:9 _____________________________________________________

Spreuke 5:10 ____________________________________________________

Spreuke 7:27 ____________________________________________________


Het jy al ooit ervaar dat die vyand heuning belowe het maar agterna was dit in jou lewe so bitter soos wildeals? Het jy iets uit die ervaring geleer?


Lees die volgende verse en skryf teenoor elkeen wat die man verloor as hy voor die slegte vrou swig:


Spreuke 2:19 ___________________________________________________

Spreuke 5:6 ____________________________________________________


Lees Romeine 6:23 hieronder en beantwoord die volgende vrae:

"Die loon wat die sonde gee, is die dood; Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here."

Wat is die verskil tussen 'n 'loon' en 'n 'genadegawe'?

Wat is die loon van die sonde?

Wat skenk God ons sonder enige verdienste?

Voltooi Spreuke 4:20-21 hieronder:


“ My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde! Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte, want dit beteken ____________ vir dié wat daarna luister, ‘n ____________  _______________ vir hom wat dit besit.

As ek of jy enigsins geswig het voor die valse belofte van plesier en genot uit Satan se hand, is dit nie te laat om terug te draai na ons Geliefde nie! Ek sluit vandag af met hierdie mooi beeld uit Spreuke 5:18-20

“Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos ‘n takbok, soos ‘n ribbok. Geniet voluit haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm. Waarom sou jy jou laat bedwelm deur ‘n slegte vrou, my seun, waarom sou jy in die arms van ‘n ander vrou gaan lê?”

Draai terug na God en sy offer van lewe en liefde...geniet voluit Sy ‘liefkosings’ en laat dit jou deurentyd bedwelm! Dit wat God ons bied in Christus is meer as wat ons ooit kan dink of vra. Dit is nie vir ons nodig om te gryp na valse beloftes van genot nie!

Dankie Here vir U lewe en U liefde. Dit is vir my meer as genoeg, my siel is versadig. Amen.

Groete tot more
Lize

1 opmerking:

  1. Heuning belowe wat soos wildeals geword het in my lewe? Haha, ja...heuning! Op 'n ernstiger noot dink ek weliswaar kos. As ek moeg is en veral as ek emosioneel moeg is kom die leuen dat die beste manier om te ontspan en jouself te bederf nou 'n sjokolade of wat ook al gaan wees. Natuurlik voel ek na die tyd vies want ek sit maklik gewig aan en voel dan glad nie goed oor myself nie. Die heuning word regtig soos wildeals! Ek het nou letterlik geleer om as so 'n gedagte by my opkom hardop te se: Nee, dit is 'n leuen, die waarheid is dat jy my glad nie help beter voel nie maar inderwaarheid net slegter en slegter laat voel!

    AntwoordVee uit