Sondag 05 Oktober 2014

Week 2, dag 1: Lewe gefokus op self


Tema: Lewe wat waarlik lewe is
Week 2: Lewe as ‘n offer uit die vyand se hand


“Jou wysheid en jou kennis het jou mislei, en jy het gedink: daar is niemand soos ek nie.”
(Jesaja 47:10b)

Doelwitte:
Besef die verskil tussen die lewe wat God ons offer en die lewe wat Satan ons offer
Besef die verskil tussen die groot ‘EK IS’ en my eie ‘ek is’
Besef die uiteinde van self-liefde
Identifiseer die korrekte fokus vir ons liefde

Verlede week is ons aangemoedig deur die woorde van 1 Timotheus 6:19 om op ‘n ontdekkingsreis te gaan deur die Woord van God,  op soek na daardie lewe wat waarlik lewe is. Van meet af aan was ons fokus gerig op die God wat van ewig af bestaan – Hy wat was, wat is en wat sal kom – die Bron van alle lewe. Ons was weer daaraan herinner hoe suiwer en rein en heilig en goed die lewe is wat in God is en wat Hy vir ons skenk! Vir my is lewe uit God se hand soos die mooiste roos wat in jou hand ontvou...

Hoe sou jy hierdie kosbare lewe uit God se hand beskryf?

Lewe uit God se hand is egter nie die enigste offer op die tafel nie...daar is ‘n ander offer uit ‘n ander hand...

Lees Genesis 3:2-3 en beantwoord die vrae hieronder:

Wat het God gesê sal gebeur as die mens van die verbode vrugte eet?

Wat het Satan volgens vers 4 by implikasie gesê sal gebeur as die mens van die verbode vrugte eet?

Watter voordeel sou dit volgens Satan vir die mens inhou om van die vrugte te eet?

Kyk na die volgende diagram:



Volgens God: Gehoorsaamheid aan God se opdrag sal lei tot 'n Godvervulde lewe
Volgens Satan: Gehoorsaamheid aan God se opdrag sal lei tot 'n beperkte lewe
Volgens God: Die eet van die vrugte sal lei tot die dood                                      
Volgens Satan: Die eet van die vrugte sal lei tot 'n  Godgeleke lewe 

Wat Satan aan die mens voorhou, verskil radikaal van God se waarheid:
  • God gee sy opdrag juis om die mens se lewe te bewaar en volheid van lewe te verseker maar volgens Satan is die opdrag daar om die mens se lewe in te perk en te strem.
  • God waarsku dat die eet van die vrugte die dood tot  gevolg sal hê, maar Satan hou voor dat dit die hoogste voordeel sal inhou...om soos God te word.
  • God se offer is ‘n godvervulde lewe – lewe gevul met die volheid van elke goeie seëning uit sy hand. Satan se offer is ‘n godgeleke lewe – lewe gelykstaande aan dié van God.

Wat dink jy is die gedragseienskappe van iemand wat ‘n godgeleke lewe nastreef?

Lees nou Genesis 3:6 en beantwoord die vrae hieronder:

Wat het Eva ‘besef’ aangaande die vrugte?

Wat aangaande die eet van die vrugte het sy nie meer geglo nie?

Hoekom was die vrugte vir haar begeerlik?

Was Eva nog tevrede met wat sy gehad het of wou sy nou iets meer hê?

Watter van die volgende woorde sou jy sê is ‘n goeie beskrywing van Eva se nuwe begeerte?

Selfverbetering
Selfrealisering
Selfopoffering
Selfverheerliking
Selfverryking
Selfbelang

Op wie val die fokus in hierdie nuwe begeerte van Eva?

Het Eva se begeerte God ingesluit en haar selfs nader aan God gebring of het dit Hom uitgesluit en haar teenoor Hom gestel?

Lees weer Jesaja 47:10 (ons inleidingsteks vir vandag).

Ek wil graag hê dat ons die vers ook in die Engelse vertaling moet sien:

“Your wisdom and your knowledge mislead you when you say to yourself, ‘I am, and there is none besides me.’”

Lees nou Eksodus 3:14 hieronder (in Engels omdat die Engelse woorde my punt meer akkuraat beskryf. Jy kan self ook die vers in jou Afrikaanse Bybel oplees):

“God said to Moses, ‘I AM WHO I AM. This is what you are to say to the Israelites: I AM has sent me to you.’”

'I am' teenoor 'I AM'. Satan se offer is een van self-liefde teenoor ‘n liefde vir God. Hy moedig ‘n lewe aan waar die eie ek verhoog word bo God. ‘Ek is’ word belangriker as die groot ‘EK IS’.

Ek is geregtig op...
Ek is te na gekom...
Ek is ontevrede...
Ek is so goed...
Ek is die beste...
Ek is in beheer...

Het jy al ervarings gehad waar jou ‘eie ek’ hom/haarself teenoor God gestel het? Hoe het jy gevoel?

Lees Jesaja 14:11-15 en beantwoord die volgende vrae:

Watter begeerte het die koning van Babel gehad volgens vers 14?

Hoe stem dit ooreen met wat Satan vir Eva voorgehou het in Genesis 3:4 hieronder:

“Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

Wat is die bron van hierdie begeerte volgens Jesaja 14:11?

Wat was die uiteinde van die koning van Babel?

Wat was die gevolg van Adam en Eva se keuse volgens Genesis 3:19 hieronder?

“Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Kom ons kyk na nog twee verse voordat ons vandag afsluit:

Wat sê die Here vir die gemeente van Efese in Openbaring 2:4?

Tot watter gevolgtrekking kom koning Dawid in Psalm 63:4?

Waar die gemeente van Efese begin wegdraai het van God, het koning Dawid ‘n groot lewenswaarheid begryp - ‘n Lewe sonder die liefde van God, is leeg. Vandat die mensdom God se liefde versaak het vir self-liefde, is die mens in ‘n vergeefse soeke na ‘n sinvolle lewe. Slegs in God, deur sy Seun Jesus Christus, vind ons die liefde waarna ons harte smag en die Lewe met ‘n hoofletter wat ons siele tot oorlopens toe vul. Geen goeie werke en geen aardse plesier kan dit vir ons gee nie!

Vul die ontbrekende woorde van Mattheus 10:39 in:

“Hy wat sy ________ wil behou, sal dit _________; en hy wat sy _________ ter wille van My verloor, sal dit _________.”

Ek en jy is op ‘n soektog na die ware lewe. Anders as wat Eva gedink het, is die pad daarheen nie deur selfverheerliking nie. Nee, die pad daarheen is om ‘ek is’ prys te gee vir die groot ‘EK IS’.

“Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog.” (1 Petrus 5:6)

 

Hiermee sluit ons af vir die dag. Onthou vandag is daar twee besprekingsvrae en ek sien uit na julle antwoorde!
Groete tot more
Lize

1 opmerking:

  1. Eienskappe van iemand wat godgeleke lewe nastreef? Ek dink as dit onbewustelik jou fokus is, word dit belangrik om heeltyd die beste te wees en moet jy heeltyd beter word. Niks gaan meer om die genot daarvan nie maar om die prestasie. Tweede plek is gelykstaande aan verloor en jy kan nie verloor nie en jou kind mag nie verloor nie. Jy glo jy is beter en jy weet beter.

    Het my eie ek haarself al teenoor God gestel en hoe het dit gevoel? Sjo, verseker het dit al gebeur. Nog altyd as dit gebeur het, kom ek een of ander tyd hard terug aarde toe en huil ek nie net lang trane van berou voor die Here nie maar moet ook 'deal' met die feit dat hierdie gedrag gewoonlik ook mense seergemaak het. Niks daarvan is lekker nie. Niks daarvan is die moeite werd nie!

    AntwoordVee uit