Sondag 28 September 2014

Week 1, dag 5: Lewe as 'n keuse


“Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”
(Deuteronomium 30:19)

Doelwitte:

  1. Verstaan God se geskenk van lewe met ‘n vrye wil
  2. Verstaan wat ons opsies is om van te kies
  3. Verstaan die veband tussen gehoorsaamheid en liefde vir God

Die afgelope paar dae het ons gekyk na die konsep van lewe uit God se hand. In God is lewe en Hy is die Bron van alle lewe. Dit was God se goeie wil om die mens te skape en hom te laat deel in die lewe en liefde wat daar in die drie-enige Godheid bestaan. Ons lewe is ‘n geskenk van God en van die begin af was dit die mens se keuse om positief op hierdie geskenk te reageer en om dit te koester of nie.

Lees Genesis 2:16-17 hieronder:

“Die Here God het die mens beveel: ‘Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.’”

Voordat ons na die inhoud van die keuse kyk, wil ek graag he dat ons bietjie kyk na die feit dat God vir ons ‘n vrye wil en dus die opsie van ‘n keuse gee.


Waarom dink jy het God vir die mens 'n vrye wil gegee en daarmee saam die moontlikheid om teen Hom te kies?


Baie mense voel dat God ‘n ‘fout’ gemaak het deur enigsins die moontlikheid van ‘n keuse daar te stel. God maak egter nie foute nie! God se wil is dat die mens wat Hy geskape het in ‘n liefdevolle verhouding met Hom tree. Aan die een kant bied Hy ons sy liefde volgens sy goeie wil en aan die ander kant beantwoord ons sy liefde vanuit ons vrye wil. Enige ‘liefde’ van ons kant af wat nie uit ‘n vrye wil gebied word nie kan tog geen ‘liefde’ wees nie. God se wil was nie om marionette te maak nie maar mense wat sy vaderliefde kan ontvang en beantwoord en sy kinders kan wees. Die grootste geskenk in enige verhouding, ook dié met God, is om liefde te ontvang wat nie ‘n respons afdwing nie en die grootste vervulling en suiwer vreugde is wanneer jy daardie liefde spontaan en uit vrye wil kan beantwoord met dié van jou eie.

Kom ons kyk nou na die inhoud van die keuse wat in Genesis 2:16-17 aan die mens gestel is. Let wel dat reeds in hierdie verse, voordat ons nog lees van ‘n vyand wat verlei, al die opsies volledig gegee word asook reeds alles wat nodig is om ‘n sinvolle keuse te kan maak.

Na aanleiding van bogenoemde Skrifgedeelte, maak ‘n lys van alles wat jy dink die keuse behels het direk of by implikasie. Wees so volledig as moontlik. Daar is nie 'n regte of verkeerde antwoord nie!


Vergelyk jou eie insigte met myne hieronder: 

Ek sien God se opdrag aan Adam en Eva soos ‘n goeie opleidings- of inligtingsessie. Wanneer ek by ‘n nuwe werkplek begin of by ‘n nuwe woonkompleks intrek sal iemand my rondwys en sê wat ek kan doen en nie kan doen nie en wat ek mag en nie mag doen nie. Die reëls word vir my verduidelik. Op dieselfde wyse gee God vir Adam en Eva die moets en moenies. Die eerste keuse wat ek daarvolgens kan identifiseer is om die inligting as betroubaar of onbetroubaar te beskou en dit sal afhang van die feit of ek die gewer van die inligting as betroubaar of onbetroubaar beskou.

Adam en Eva moes besluit of hulle God as betroubaar of onbetroubaar beskou.

Om te besluit of iemand betroubaar of onbetroubaar is en of ek soedoende die inligting wat die persoon aan my gee kan vertrou, moet ek hom of goed ken of in ‘n eerste ontmoeting ten minste weet dat die persoon die nodige gesag en geimpliseerde kennis het om die inligting aan my te kan oorgee.

Adam en Eva moes besluit of God volgens hulle kennis goed en liefdevol en betroubaar is en of Hy oor die nodige gesag en kennis beskik om hierdie inligting aan hulle oor te dra en die opdrag aan hulle te gee.

Wat dink jy, het God Homself tot op daardie punt as betroubaar en liefdevol en goed aan hulle betoon en het hulle oor hierdie nodige kennis beskik om ‘n sinvolle keuse in hierdie verband te maak?

Wat van jou? Het God Homself sover betroubaar en liefdevol en goed aan jou betoon?

Beskou jy God as betroubaar?


Wanneer ek ‘n opdrag of enige inligting ontvang, moet ek verder besluit of ek dit wat aan my meegedeel is aanvaar as waar en goed en of ek dus daarmee saamstem en of ek dit gaan teenstaan. Adam en Eva moes besluit of hulle God se opdrag sou aanvaar as waar en dit gehoorsaam en of hulle dit sou teenstaan. Kortom, hulle moes besluit of hulle aan God gehoorsaam sou wees of nie.

Lees Johannes 14:21 en 23 hieronder:

“Wie my opdragte het en dit gehoorsaam, hy is die een wat My liefhet.” (v21)

“As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê...”

Wat dink jy is die verband tussen gehoorsaamheid en liefde vir God?

Wat se dit van my verhouding met die Here as ek nie met sy riglyne saamstem nie?

Dit is so belangrik dat ons hierdie mooi verstaan. Volgens Genesis 2:16-17 was die moontlike gevolge van Adam en Eva se keuse die van lewe of dood. Sou hulle God se opdrag gehoorsaam sou hulle lewe in volheid geniet maar sou hulle die opdrag nie gehoorsaam nie sou hulle sterf. Adam en Eva was nie ongehoorsaam omdat hulle eerder wou sterf as lewe nie! Hulle was ongehoorsaam omdat hulle God nie geglo het nie. Hulle het besluit dat God onbetroubaar was. Hulle het nie saamgestem met die inligting wat Hy vir hulle gegee het nie. Hulle het dit nie as waarheid beskou nie. Hulle het geglo dat God gejok het toe Hy gesê het dat hulle sou sterf as hulle van die Boom van alle Kennis eet. Hulle het die Een wat vir hulle volheid van lewe geskenk het as ‘n leuenaar beskou.

Verstaan jy nou hoekom Jesus gehoorsaamheid en liefde vir Hom met mekaar verbind? As jy God liefhet, sal jy Hom glo en gehoorsaam. Jy sal weet dat Hy betroubaar en goed is, dat Hy weet wat die beste vir jou is, en dat Sy opdragte vir jou beswil is. Maar as jy dit nie glo nie, glo jy dat Hy sleg is en kan jy Hom nie liefhê nie en sal jy nie sy opdragte gehoorsaam nie.

Jesus sê dan ook in Johannes 14:24, “Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie...”

Adam en Eva moes dus besluit of hulle God glo, liefhet en gaan gehoorsaam of daarteenoor of hulle God wantrou, teenstaan en ongehoorsaam aan sy opdrag gaan wees.

Wat is jou opinie rakende God se karakter?

Wat is jou opinie rakende God se wysheid rakende die pad na die ware lewe?

In Deuteronomium 30:15-16 lees ons dat ook die Israeliete moes kies. Vul die ontbrekende woorde uit hierdie twee verse in:

“Ek het vandag die _______ en die voorspoed, die ________ en die teenspoed aan jou voorgehou. As jy die Here jou God __________ en sy _______  ________ deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te _____________, sal jy ________...”

Net soos Adam en Eva in Genesis 2 en die Israeliete in Deuteronomium 30, kom ek en jy ook elke dag, elke oomblik voor hierdie selfde keuse. Glo ons God, het ons Hom lief en gaan ons Hom gehoorsaam...of nie. En die gevolge is vandag nog dieselfde – lewe of dood.

As God vra dat ons mekaar vergewe en ons weier, kies ons dood in daardie verhouding en dood in ons harte.

As God sê dat dronkenskap teen Sy wil is en ons steur ons nie daaraan nie kies ons die pad van verslawing en verwoesting.

As God sê dat ons nie moet begeer nie maar ons gee ons harte vrye teuels dan kies ons ‘n pad van bittere jaloesie, nyd en haat.

Wat ons eintlik doen is om ons eie kennis teen die kennis van God te stel. Ons weet beter. O, die hoogmoed wat God so haat...want dit lei tot dood en Sy wil vir ons is nie dood nie maar Lewe met ‘n hoofletter!

Is daar areas in jou eie lewe waar jy God nog teëstaan eerder as om Hom te gehoorsaam?

Wat kies jy as jy God teenstaan?

Vra die Heilige Gees om jou voortdurend daarop te wys wanneer jy dood bo die lewe kies. Indien jy daarvan bewus word, bely dit voor die Here en soos die Nederlandse spreekwoord sê: “Verander van spoor als jy verkeerd zit.”

Wow, ons is deur week 1 van ons studie en daar is so baie om oor na te dink. Bly naby die Here en dank Hom vir sy offer van lewe! Volgende week kyk ons na lewe as ‘n offer uit die vyand se hand.

Tot dan,

God’s rykste seën.

Lize

2 opmerkings:

  1. Waarom het God vir ons 'n vrye wil gegee? Ek dink dit is die nodige bestanddeel vir ware liefde. My eie kinders het ook die keuse om my lief te he of nie! Ek kan eis dat hulle my respekteer maar ek kan nie eis dat hulle my liefhet nie. Daarom is hulle liefde so 'n kosbare geskenk. Daarom is dit so great as hulle my 'n drukkie kom gee. So is ons liefde uit ons harte uit vir God 'n kosbare geur, 'n kosbare geskenk. Dit alles is slegs moontlik as daar 'n vrye wil is.

    AntwoordVee uit
  2. Wat ek vandag ook geleer het, is om baie mooi te dink oor my eie gedrag. Voordat ek God so maklik ignoreer en my eie kop volg moet ek mooi dink hoekom Hy vir my sy riglyne gegee het...omdat Hy my liefhet en om my te beskerm. Ek moet ook mooi dink wat ek impliseer as ek nie sy riglyne wil volg nie. Hoekom nie? Ek begin besef dat al is dit nie wat ek wil doen nie, al is dit nie lekker nie...ek moet Hom gehoorsaam omdat Hy my liefhet en omdat ek Hom liefhet :-). Wat het julle sover geleer?

    AntwoordVee uit