Sondag 28 September 2014

Week 1, dag 4: Lewe met sekuriteit


“Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, aan ons enigste God en Verlosser deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid. Amen.”
(Judas:24-25)

Doelwitte:
1) Besef dat God in ons huidige lewensbehoeftes voorsien
2) Besef dat God reeds voor die Skepping ons geestelike lewe in Christus verseker het
3) Besef dat die ewige lewe vir ewig vas en veilig staan


Judas 24-25 is sekerlik van my gunsteling verse in die Bybel. Dit beskryf so mooi dit wat ons sover in ons studie bestudeer het – ons God en ons Here wat van voor alle tye, nou en ook tot in alle ewigheid bestaan. Meer nog, dit gee my altyd ‘n gevoel van sekuriteit. My Here is daartoe instaat en het die mag om my onberispelik en jubelend in sy hemelse koninkryk in te bring. Is dit nie die versekering wat ons almal graag wil hê nie? Verseker!

Weliswaar gaan ons vandag kyk na die lewensekuriteit wat God vir ons daarstel reeds van voor alle tye, nou en tot in alle ewigheid.

Sekuriteit vir die ‘nou’

Lees weer Genesis 1-2. Ek weet dis baie, maar dit sal vir jou tot seën wees.

Beantwoord nou die volgende vrae:

Maak ‘n lys van enige fisiese behoeftes van die mens wat jy in hierdie 2 hoofstukke kan identifiseer en dui aan hoe God daarin voorsien het.

Maak ‘n lys van enige emosionele behoeftes van die mens wat jy in hierdie 2 hoofstukke kan identifiseer en dui aan hoe God daarin voorsien het.

Na die sondeval en die sondvloed het die mens se behoeftes verander. Lees Genesis 2:21 en Genesis 9:2-3 en dui aan hoe die Here in hul nuwe behoeftes voorsien het.

Watter belofte kry ons in Filippense 4:19?

Net nog een teks om na te slaan – Watter versekering gee Jesus ons in Mattheus 6:31-32?

Dink ‘n bietjie na oor jou eie lewensbehoeftes. Was God sover getrou om ryklik in jou behoeftes te voorsien?

Kan jy aan gevalle dink waar dit tot jou beswil was dat God se antwoord op ‘n gebed ‘nee’ was?

Vertrou jy die Here volkome om ryklik in jou behoeftes te voorsien of verwag jy eerder ‘n negatiewe reaksie? Hoekom?

Watter behoeftes is daar huidiglik in jou lewe wat jou bekommernis besorg?

Skryf ‘n kort gebed waarin jy God dank dat Hy reeds daarvan bewus is en vir Sy belofte om ryklik in jou behoeftes te voorsien.

Om in ons fisiese en emosionele behoeftes te voorsien is belangrik vir ons lewensekuriteit maar wat van ons lewe self? Iemand se lewe is so min werd vandag en daar is so baie gevare wat ons lewe bedreig. Inderdaad belowe die Here nie dat ons vir ewig in ons aardse liggame sal leef nie. Hy belowe ook nie dat ons almal op ‘n vreedsame wyse in ons slaap die grens tussen hierdie lewe en die ewige lewe sal oorsteek nie. Tog beteken dit nie dat ons nou in vrees moet leef nie. Ons aardse lewe beten wel baie vir die Here en Hy het ‘n plan hier en nou vir elkeen van ons.

Lees die volgende Skrifgedeeltes noukeurig:

“Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekensap eis, want dit is julle lewe...”
(Genesis 9:5)

“Word vyf mossies nie vir twee assaria verkoop nie? En nie een van hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie: julle is meer werd as baie mossies.”
(Lukas 12:7)

“...al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”
(Psalm 139:16)

“Ek is immers daarvan oortuig dat geen dood of lewe...of teenswoordige of toekomstige gebeure...of hoogte of diepte...ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.”
(Romeine 8:38-39)

Voltooi die volgende drie verse uit Psalm 23:

(v1) Die Here is my herder, ek kom...

(v4) Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want...

(v6) U goedheid en liefde sal...

Beantwoord nou die volgende vrae:

Dink jy God weet van elke bedreiging van jou lewe?

Kan enige iets met jou gebeur sonder dat God daarvan weet?

Watter van die bogenoemde verse of enige ander vers in die Bybel bied vir jou die grootste gemoedsrus en sekuriteit? Hoekom?

Nie net kan ons sekuriteit in God se liefde vind vir ons lewe op aarde nie, maar God het ook vir ons veilige grense gestel waarbinne ons die volheid van lewe in Hom kan geniet.

Watter riglyn en duidelike veiligheidsgrens gee God vir Adam en Eva in Genesis 2:16-17?

Kon hulle die gevaar vermy het? Hoe?

Lees Johannes 15:9-11.

Watter riglyn gee Jesus vir ons in hierdie verse?

Hoekom gee Hy vir ons hierdie riglyne (vers 11)?

As God se riglyne volkome blydskap tot gevolg het, wat dink jy lê buite God se riglyne?

Sekuriteit van voor alle tye af

In terme van ons aardse lewe het ons baie sekuriteit nodig maar dit is ook waar vir ons geestelike lewe! Soos wat ons gister gesien het was dit God se doel om die mens te skape sodat ons in ‘n liefdevolle verhouding met Hom kan leef tot sy eer. God wil ons by sy ewige liefde en lewe insluit. Sonde het egter ‘n skeiding veroorsaak tussen God en die mens. Satan het gehoop dat deur die sonde, die mens vir altyd uitgesluit sou bly van die ewige lewe van God.

Lees die Skrifgedeeltes hieronder en beantwoord dan die vrae wat daarop volg:

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
(Johannes 3:16)

“U is waardig om die boekrol te neem...omdat U geslag is en met u bloed mense vir God gekoop het uit elke geslag en taal en volk en nasie.”
(Openbaring 5:9)

“...deur middel van die krag van God, wat ons verlos en geroep het met ‘n heilige roeping –  nie op grond van ons dade  nie, maar op grond van sy eie besluit en genade, wat reeds van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk en nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus, wat die dood vernietig het, maar wat ook deur die evangelie die lewe en die onverganklikheid aan die lig gebring het”
(2 Timotheus 1:8-10)

Hoe het God die skeiding wat deur ons sonde veroosaak is, uitgewis?

Wie is die Lam en wat het Hy gedoen?

Wanneer het God in sy groot genade reeds besluit om op hierdie wyse vir ons verlossing te bewerk?

Wat het Jesus Christus nou aan die lig gebring?

Waarin of in wie is ons totale sekuriteit om die ewige lewe te verkry?

Wie kan almal die ewige lewe beërwe?

Watter verdere sekuriteit of sekerheid bied Judas 24-25 ons?

Volgens 2 Korintiërs 1:21, watter waarborg of sekuriteit het God vir ons gegee van ons insluiting in die ewige lewe?

Sekuriteit tot in alle ewigheid

Laastens kan ons seker vra? Watter sekuriteit is daar vir ons in die ewige lewe? As ‘n antwoord op hierdie vraag sluit ek vandag weer eens af met ‘n paar verse uit Openbaring:

“Toe het die engel aan my ‘n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal en het gestroom uit die troon van God en die Lam.”
(Openbaring 22:1)

“Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees en sy diensknegte sal hom dien. Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.”
(Openbaring 22:3-5)

“Toe het die engel aan my gesê: ‘Hierdie woorde is betroubaar en waar.”
(Openbaring 22:6)


As ons vanaand gaan slaap kan ons dit doen met die seker wete dat ons lewe van ewigheid af, nou en tot in alle ewigheid in Christus Jesus in veilige hande is!

Groete tot more

Lize

2 opmerkings:

  1. Watter verse bied vir my groot sekuriteit? Genesis 9:5 doen nogal iets vir my. Seker omdat ons in so gewelddadige land bly waar lewens so maklik geneem word. Maar God sal rekenskap eis. Ons lewe is vir Hom kosbaar. Nou die dag by ons Wimpy vlieg 'n mossie in en kom sit op die rand van my bord en eet van my kos. Dit het my herinner aan Jesus se versekering dat ons vir Hom baie meer werd is as baie mossies al weet Hy selfs wat met elke mossie gebeur. Laastens natuurlik Jesaja 41:10 is die een vers waaraan ek van kindsbeen af ashou. Die mooiste belofte: Ek is by jou...Ek is jou God, Ek help jou, Ek versterk jou, Ek hou jou vas....Ahhhh!

    AntwoordVee uit
  2. Ek dink die hele gedagte dat God nie maar net vir ons lewe geskenk het, hetsy op aarde of die ewige lewe sonder die nodige sekuriteit en sekerheid nie! Nog voordat Hy ons geskape het, het Hy ons lewens verseker deur die bloed van sy eie Seun...hoeveel te meer sal Hy nie elke dag vir ons sorg nie??? God is in soveel detail betrokke by ons lewens....dit maak werklik vir Hom saak...dit is my grootste troos!!!!

    AntwoordVee uit