Sondag 28 September 2014

Week 1, dag 3: Lewe met 'n doel


“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”
(Jeremia 29:11)

Doelwitte:
1) Besef dat God 'n doel het met ons lewe
2) Ondersoek ons doel as kinders van God
3) Ondersoek ons doel om God te verheerlik
4) Ondersoek ons doel om God se liefde uit te leef


Ek hoop dat ons na gister se sessie nou goed opgewarm is want ons het baie om te bespreek vandag! God het nie maar net vir ons die kosbare geskenk van lewe na Sy beeld gegee sodat ons bloot kan bestaan nie. O nee, Hy skenk ons lewe met ‘n doel; lewe met ‘n hede én ‘n toekoms; lewe met ‘n verwagting – die vervulling van ‘n groter doel! Soos die stekies van ‘n tapiserie elkeen deel vorm van die finale resultaat, so is ons lewe uit die hand van God deel van ‘n groter, goddelike en goeie plan.

Dat God ‘n doel en ‘n plan vir ons lewe het is ongelooflik belangrik. Wanneer jy iemand van sy hoop en sy doel in die lewe ontneem, ontneem jy sy wil om enigsins te leef. Wanneer ek nie meer die sin van my bestaan kan insien nie en nie meer ‘n toekomsverwagting het nie, verloor ek my lus vir die lewe.

Ons gaan nie vandag poog om ‘n volledige lys te maak van dit wat ons lewensdoel uitmaak nie, maar ons gaan wel na enkele Skrifgedeeltes kyk sodat ons meer van ons lewensdoel kan verstaan én dit kan koester.

Lees Efesiërs 1:4-6 hieronder.

“So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef,  voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van sy genade...”

Ek weet nie van julle nie maar al klaar nadat ek die eerste paar woorde gelees het voel dit vir my asof ek maar kan tou opgee. Dit lyk ontmoontlik om hierdie doel suksesvol uit te leef. Heilig en onberispelik leef voor God? Wie van ons kan dit met selfvertroue rakende ons lewe verklaar? Ons weet goed hoe moeilik dit is! Gelukkig gaan dit nie hier oor iets onmoontliks wat ons moet bereik nie, maar oor iets wat God deur Christus in ons wil bewerkstellig. Ons sal later in ons studie meer breedvoerig hierna kyk. Ons fokus in Efesiërs 1:4-6 vir nou is die feit dat ons bestem is om in Jesus Christus in ‘n verhouding met God te leef.

Kyk weer na die teksgedeelte.

Watter tipe verhouding wil God met ons hê?

Watter eienskappe kenmerk hierdie verhouding?

Watter eienskap sou jy sê is die belangrikste in hierdie verhouding?

Lees Mattheus 22:37-38 hier onder.

“Hy het vir hom gesê: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die groot en die eerste gebod.”

Hoe stem hierdie teksgedeelte ooreen met Efesiërs 1:4-6?

Sou jy sê die eerste gebod dui op ‘n God wat liefde vir Hom wil afdwing? Hoekom of hoekom nie?

Lees Johannes 5:19-20a gevolg deur Johannes 14:21 hieronder

“Hierop het Jesus vir hulle gesê: ‘Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen...”

“Wie my opdragte het en dit gehoorsaam, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.”

Beantwoord nou die volgende vrae:

Hoekom maak die Vader sy wil en dit wat Hy doen aan die Seun bekend?

Hoe betoon die Seun sy liefde aan sy Vader?

Hoekom dink jy maak God sy wil aan ons bekend?

Hoe maak Hy sy wil aan ons bekend?

Hoe betoon ons ons liefde aan God en aan Christus?

Wat belowe Christus vir die wat op hierdie manier hul liefde aan Hom betoon?

Ons is geskape om in ‘n liefdevolle verhouding met ons Skepper en Verlosser te leef. In liefde maak Hy sy goeie wil en riglyne vir ons lewe aan ons bekend en in liefde volg ons dit na. Die gevolg hiervan is ‘n intimiteit wat nie net ons lewens kenmerk nie maar dit ook sinvol maak. In die verband sê Chuck Smith:

“... in not loving God, you have failed to respond to the basic purpose of your existence thus do not be surprised if your life seems at times to be empty, frustrating and useless.”

Kom ons kyk nou na ‘n tweede stel Skrifgedeeltes.

“...het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy heerlike koninkryk in te gaan.”
(1 Tess 2:12)

“...en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
(Fil 1:11)

“So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus...”
(1 Pet 4:11)

“Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”
(Openbaring 4:11)

Watter lewensdoel of opdrag het hierdie verse in gemeen?

Wat dink jy beteken dit om God te verheerlik? Kyk na ‘n definisie van die woord ‘verheerlik’ om jou te help.

Het jy dit ten doel om in alles God te verheerlik?

Hoekom sou jy God wou verheerlik?

Op watter wyses kan ons God verheerlik?

Is daar areas in jou lewe waar jy dalk nalaat om God te verheerlik? Hoe kan jy dit regstel?

Ons het nou al na twee doelwitte vir ons lewe gekyk: Om in ‘n liefdevolle verhouding met God te leef en om Hom met ons hele lewe te verheerlik. Kom ons kyk nou na ‘n derde verwante doelwit. Lees Efesiërs 2:10 hieronder.

“...in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Wanneer dink jy het God hierdie goeie dade vir ons bestem?

Sover vandag het ek al die verse neergeskryf maar nou is dit jou beurt om bietjie deur jou Bybel te blaai. Lees die volgende verse en dui aan watter goeie dade daarin beskryf word:

Jesaja 1:17

Jesaja 58:6-7

Mattheus 25:35-36

Romeine 12:10-14

1 Korintiërs 12:7

1 Tessalonisense 5:11

Jakobus 1:27

Genesis 1:28

Hierdie is geensins ‘n volledige lys van moontlike goeie dade nie! Vra die Heilige Gees om vir jou enige ‘goeie dade’ uit te wys wat Hy vir jou voorbestem het vir waar jy jou nou bevind en skryf dit neer.

Ons goeie dade is nie net deel van ons lewensdoel nie maar ook ‘n voorreg. Vind Openbaring 19:8 in jou Bybel en skryf dit neer.

As daar een mens was wat die doel en die sin van die lewe noukeurig ondersoek het, was dit die Prediker. Sy slotsom? “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.” (Prediker 12:13) God se gebooie berus op een ding: liefde. Liefde vir God en liefde vir mense want “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” (1 Korintiërs 13:1-3)

Ons liefdevolle verhouding met God, om Hom te verheerlik en sy liefde uit te leef, is alles dinge wat deel uitmaak nie net van ons aardse bestaan nie, maar van die groter prentjie van die ewige lewe! Efesiërs 1:10 verseker ons dat God se bedoeling van die begin af was om alles in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verening, naamlik onder Christus. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God en erfgename van die ewige lewe in die liefdevolle en heerlike teenwoordigheid van God ons Vader. Later in ons studie sal ons meer gesels oor die ewige lewe wat vir ons voorlê maar om ons dag af te sluit met ‘n blik op God se groter doel met ons lewe, lees Openbaring 21:3-7.

 

Dit maak my opgewonde en spoor my aan!

Groete tot more,

Lize

3 opmerkings:

  1. Nee, ek dink nie God wil dit “afdwing nie” maar dat God se verhouding met ons net op liefde gebou is en dat hy dieselfde van my verhouding met om verwag. God is 'n liefdevolle God nie 'n God met 'n houding van "omdat ek jou liefhet moet jy my liefhe nie" Hy lei ons en wys ons wat liefde werklik is deur sy "geskenke" wat hy elke dag aan ons gee. Indirek dwing hy my eindlik want hoe meer ek dit sien en sy gawes ontvang kan ek nie anders as Hom met my hele hart lief te he nie. Hy gee onvoorwaardelik en verwag net ons liefde aan vir Hom terug.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja Elize, Hy bind ons met koorde van liefde! Die eerste gebod word dan eintlik geen moeilike streng gebod nie maar soos jy sê, die begeerte van ons hart in respons tot sy groot liefde.

      Vee uit
  2. Toe ek die vraag lees herinner dit my aan ons onlangse trip na Tanzanie. By die kamp het die gids vir ons gesê ons moet glad nie die kraanwater gebruik nie, nie eens vir tandeborsel nie. Ons moet net die gebottelde water gebruik. Die kraanwater sou ons baie siek maak. Ek sien nogal God se gebod om Hom lief te hê in dieselfde trant...Moenie drink van enige ander 'water' as van My nie want dit sal jou siek maak, maar my 'water' is helend en gesond. Wees lief vir My met als wat jy het want Ek is wat jy nodig het vir ware lewe, moenie jou liefde gee aan enige ander valse god wat jou ondergang sal beteken nie!

    AntwoordVee uit