Sondag 28 September 2014

Week 1, dag 2: Lewe as 'n kosbare geskenk



"Toe het God gese: 'Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld..."
(Genesis 1:26)

Welkom terug by Bybelstudie oppie blog!


Doelwitte:
1) Besef dat ons lewe 'n geskenk van God af is.
2) Bepaal die uniekheid van die lewe aan ons geskenk



As jy tyd het en kans sien lees gerus Genesis 1-2 ter voorbereiding van vandag se studie

Ons het gister gesien dat lewe en volheid van lewe aan God behoort. Hy is die bron van lewe. In Hom is ewige lewe en Hy self bestaan vir ewig. Ons het ook gesien dat die lewe wat in God is goed en heilig is, gekenmerk deur aspekte soos liefde, eenheid en heerlikheid. Miskien is die kosbaarste boodskap uit gister se les die feit dat daar by God in hierdie ‘voor-wêreldse’ en ewige lewe, volgens Sy goeddenke en wil, reeds die intensie en doel en plan vir ons eie huidige, aardse lewe bestaan het asook ons insluiting by Sy groter konsep van 'n ewige voor- en na-wêreldse lewe. Ek weet dis ‘n bietjie lomp gestel maar ek wil hê ons moet verstaan dat ons eie huidige lewe hier op aarde omsluit word deur ‘n baie groter konsep van lewe wat reeds by en in God bestaan het voor die skepping van die aarde en steeds sal bestaan wanneer ons aarde en aardse lewe nie meer daar is nie. As ons besef hoe groot en verhewe God se konsep van lewe is, dan sal ons besef hoe ‘n groot en kosbare geskenk dit is om daarby ingesluit te word! Vandag se fokus is om te kyk na hierdie ongelooflike offer uit God se hand.

Genesis 1 vertel die verhaal van die skepping. God skep die heelal en die aarde met al sy plante en diere en dan, in vers 26 lees ons die volgende:

“Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’”

As ons hierdie vers lees klink dit amper asof God, nadat Hy die hemelliggame en die aarde en al die plante en diere geskape het, op die ingewing van die oomblik besluit het om die mens te skape. Om die gedagte verder te ondersoek, lees Efesiers 1:4-5 hier onder:

“So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef, voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word…”

Beantwoord nou die volgende vrae:

Was God se besluit om die mens te skape ‘n skielike besluit?

Wanneer het God besluit om die mens te skape?

Na aanleiding van hierdie teks, sou jy sê God het die mens vir die aarde gemaak of die aarde vir die mens?


Kom ons gaan weer terug na Genesis 1:26.

Na wie dink jy verwys die ‘Ons’?

Wie is die drie Persone in die Drie-enige Godheid?

Wat beteken dit vir jou om te weet dat God die Vader en Christus, die Lam geslag sodat ons die ewige lewe kan beërwe, sowel as die Heilige Gees wat lewe gee, betrokke was by die wil en die besluit om my en jou te skape?

Het jy al ooit so daaraan gedink?

Wat is jou verhouding vandag met die Vader, Seun en Heilige Gees?

Genesis 1:26 praat van die beeld van God. Wat kan jy onthou van die ‘beeld’ wat ons gevorm het in gister se les rakende God en die lewe wat in Hom is?

Na watter beeld is ons geskape?

Wat dink jy beteken dit om na die beeld van God geskape te wees?


Die Hebreeuse woord wat as ‘beeld’ vertaal word in Genesis 1:26 bevat ook die idee van ‘n skaduwee.

Skryf alles neer wat jy weet van ‘n skaduwee.

Werp dit enige verdere insig vir jou op die feit dat ons na God se beeld geskape is?

Lees nou Genesis 2:7 hieronder.

“Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.”

Kyk na die drie gedeeltes wat onderstreep is. Word hierdie drie aspekte genoem in verband met die skepping van enige van die ander elemente in die skepping?

Wat sê dit vir jou van die mens se uniekheid in die skepping?

Al ken jy dit goed, lees weer Psalm 139:13-18.

Wat sê Psalm 139 en Genesis 2:7 vir jou van God se verhouding met die mens?

Wat is jou reaksie op hierdie nuwe besef van God se intieme en liefdevolle bemoeienis met die mens...met jou?

Genesis 2:7 noem dat die mens ‘n ‘lewende wese’ geword het. Klik op die volgende skakel om meer uit te vind oor wat dit beteken en lys dan al die aspekte van jou ‘wese’ wat deur die konsep omvat word:


Ons laaste teksverwysing vir vandag is Genesis 1:27-28:

“God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.’”

God het ons nie net as ‘n mens, ‘n wese geskape nie. Hy het ons as ‘n man of as ‘n vrou geskape. Jou manwees of jou vrouwees is ‘n besondere geskenk van die Here!

Het jy al ooit aan jou geslag gedink as ‘n besondere lewensgawe uit die hand van God wat Hy volgens sy goeddenke  aan jou toegedien het?

Wat beteken dit vir jou?

Hoe belangrik dink jy is dit om die gawe van ‘geslag’ te beskerm in ‘n wêreld wat al hoe minder waarde aan geslagsverskille heg?
Wat het God volgens Genesis 1:28 gedoen nadat Hy die mens geskape het?

Wat sou jy sê is die doel daarvan om iemand te seën?


God het nie net vir ons ‘lewe’ na Sy beeld as geskenk gegee nie, Hy het ook sy guns oor daardie lewe uitgespreek! Hier is ons besprekingsvraag vir die dag:


Watter aspek van vandag se les oor lewe as ‘n goeie geskenk van God af, het jou die meeste geraak?

Ons het hard gewerk vandag - amper die hele teks is in blou! Vir my was dit egter so die moeite werd. As jy ook soos ek vandag opnuut besef het hoe kosbare geskenk lewe uit God se hand is, neem die tyd om Hom daarvoor te dank en te loof en te prys!


Groete tot more
Lize


Ps - As gevolg van 'n laptop met in wil van sy eie, kry ek dit nie reg om in blogger 'n kappie of deelteken te maak nie so verskoon asseblief as dit af en toe in die teks ontbreek. As ek eers die teks vanaf Word na blogger gecopy het en 'n deelteken of kappie ontbreek kan ek dit eenvoudig nie maklik regmaak nie :-( 

3 opmerkings:

  1. Wat het my vandag die meeste geraak? Die besef dat God as drie-eenheid betrokke was by die besluit om my te maak! Kom Ons maak die mens. En daarmee saam die besluit om my te roep, my te red, vir my te sterf, lewe in my te wek...dit was net vir my so awesome! Hoe meer ek daaraan dink hoe meer besef ek dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees al drie Persone van die Godheid aktief van die begin af in my lewe betrokke was en is en sal wees!!!

    AntwoordVee uit
  2. Sjoe, ek ervaar ‘n ongelooflike diepe vrede om weereens te kan besef dat ek die lewe as geskenk van God ontvang het omdat Hy met my lewe hier op aarde ‘n doel het. Maak nie saak wat ek is, wie ek is, waar ek is, wat ander van my dink nie. Ek behoort ten volle net aan God. Hy is so in beheer van my lewe en ek is so afhanklik van sy asem wat elke dag in my geblaas word.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Wat 'n pragtige gedagte...ek behoort ten volle net aan God! Dit is so bevrydend as ons dit besef en ander en ons eie opinies oor onsself sommer kan wegsmelt voor hierdie awesome werklikheid!!

      Vee uit