Sondag 28 September 2014

LEWE WAT WAARLIK LEWE IS: Week 1, dag 1: Lewe met 'n Hoofletter


"...sodat hulle die ware lewe kan verkry."
(1 Timotheus 6:19)

 
Onthou dat hierdie Bybelstudie nie tydgebonde is nie. Jy kan enige tyd begin en so lank neem met elke dag se stukkie soos wat jy wil. Ek sal altyd sien as jy 'saampraat' en lekker saam met jou gesels! As jy wil sien as daar nuwe kommentaar op die dag se stukkie is, klik net op die blokkie langs die kommentaarboksie wat se "stel my in kennis" en jy sal 'n email kennisgewing ontvang sodra iemand anders kommentaar lewer of op jou kommentaar reageer :-). Hoop ek sien sommer gou meer van julle hier op Bybelstudieoppieblog!!


Welkom by ons eerste dag van Bybelstudie Oppie Blog! Ek is so opgewonde want ek weet sommer net dat ons saam ‘n ongelooflike reis in God se teenwoordigheid gaan hê. Heel eerste moet ek egter ook bieg dat ek so effe senuweeagtig is. Eerstens het ek so lanklaas in Afrikaans gewerk. Die afgelope twee en ‘n half jaar was ek intens besig met my boek en dit was als in Engels. Ek gebruik ook self graag ‘n Engelse Bybel en my brein (en my vingers) wil al net in Engels dink en tik en skryf! As daar dus hier en daar ‘n skewe Afrikaanse sin of dalk ‘n Engelse woord of twee insluip moet julle my maar asseblief verskoon. Tweedens is ek nie ‘n teoloog nie en, soos altyd as ek met die Woord werk, besef ek weer eens hoe min ek eintlik weet en hoe onuitputlik God se Woord is! Soos ek reeds genoem het kan ek gelukkig by my pa aanklop vir raad as ons vashaak of om seker te maak dat ons verantwoordelik omgaan met die Woord. Weet net dat ek nie myself in hierdie Bybelstudie sien as iemand wat julle gaan leer nie maar iemand wat die leerproses gaan fasiliteer en saam gaan leer!
 
Voordat ons begin, net 'n paar verduidelikings:
  • Teks in blou sal aandui dat jy iets moet doen soos om ‘n Skrifgedeelte te lees of ‘n vraag te beantwoord. Soms sal ek die Skrifgedeelte intik en soms sal jy dit self in jou Bybel moet opsoek so hou jou Bybel byderhand!
  • Teks in rooi dui op ‘n ‘praat saam’ geleentheid. Antwoord hierdie vrae in die kommentaarboksie onderaan die blog dan kan ons lekker daaroor gesels. Ek moedig dit ten sterkste aan want dis juis ons saamleer wat dit so lekker maak. Onthou dat slegs diegene wat as 'n lid by die blog aansluit kommentaar kan lewer.
  • Bybelstudie oppie blog is gerieflik in die sin dat elkeen dit in haar of sy eie tyd kan doen maar dit is ook 'n goeie idee om 'n paar vriende of vriendinne bymekaar te kry en die studie dan saam as 'n groepie te doen. Julle kan elke les saam doen of julle kan een keer 'n week bymekaar kom en die week se werk bespreek.
  • Hoe meer akkuraat en deeglik jy elke vraag oordink en beantwoord, hoe meer sal jy uit die studie kry! Alhoewel die besprekingsvrae in rooi aangedui word, kan jy in die kommentaarboksie ENIGE ANDER VRAE VRA OF KOMMENTAAR LEWER!
  • Skrifaanhalings in die studie kom uit  die volgende Bybels:
       Die Bybel, Nuwe Vertaling, 1983
       Nuwe Testament en Psalms, 'n Direkte Vertaling, 2014
       Interliniere Bybel, Grieks-Afrikaans, Nuwe Testament, 2012
 
Onthou dat geen Bybelstudie ooit allesomvattend is nie. Daar is baie meer Skrifgedeeltes oor ons onderwerp in die Bybel as wat in hierdie Bybelstudie bespreek word en ek hoop dat elkeen in sy of haar eie stiltetyd self nog baie van hierdie waarhede in die Bybel sal ontdek!
 
So dames (en wie weet, dalk ook here) met hierdie verstandhouding, hier gaan ons...


Doelwitte:
1) Bekendstelling van ons tema
2) Besef dat daar 'Lewe' wyer en groter as ons aardse 'lewe' bestaan
3) Ondersoek die aard van hierdie groter 'Lewe'
4) Stel vas of ons 'n daaglikse besef van hierdie 'Lewe' het.
 
Ek het die gewoonte om ‘n Bybelboek te kies en dit dan stukkie vir stukkie in my stiltetyd deur te lees. Ek neem so lank as wat die Heilige Gees my daarin hou en as ek klaar is kies ek weer ‘n ander boek. Op hierdie wyse het ek onlangs deur 1 Timotheus gelees, weliswaar in my Engelse Bybel. In hoofstuk 6 praat Paulus oor ryk mense wat eerder ryk in goeie dade moet wees as ryk in materiele dinge, maar dan sê hy iets oor ‘lewe’ wat my so aangegryp en diep geraak het dat ek dit eenvoudig nie uit my gedagtes kon kry nie! Ek het bly dink daaroor. Ek wil dit graag hier aanhaal, eers in die Engels presies soos ek dit die eerste keer gelees het en dan sal ons die teks verder in Afrikaans hanteer:
 
“ In this way they will lay up treasure for themselves as a firm foundation for the coming age, so that they may take hold of the life that is truly life.” (1 Tim 6:19)
 
Is dit nie treffende woorde nie? Die lewe wat werklik lewe is (in die verskillende Afrikaanse vertalings word ook daarna verwys as die ‘ware lewe’ of die ‘werklike lewe.’)
 
Dit herinner my nogal aan die gesegde: ‘Dis mos nou die ware lewe.’ Dit is iets wat ons maklik sal se wanneer ons langs ‘n pragtige swembad lê met ‘n koeldrank in die hand of iets soortgelyks! Maar op 'n meer ernstige noot is dit eintlik sulke ongelooflike woorde! Wat my geraak het is die verwysing na die 'werklike lewe'. Is ons nie almal opsoek na die ‘werklike’ lewe nie? Ons wil almal die meeste uit die lewe haal. Nie een van ons wil ‘n halfhartige of afgewaterde of sinlose lewe leef nie. Ons wil almal 'werklik' lewe! 
 
Wat beskou jy as die ‘ware’ of ‘werklike’ lewe? Leef jy dit?
 
Kom ons kyk ‘n bietjie na die oorspronklike Griekse woord wat in 1 Tim 6:19 as ‘werklike’ of ‘ware’ vertaal word (soos uiteengesit in Strong's Exhaustive Concordance of the Bible):
 
G3689, ontōs
werklik, in realiteit, feitelik teenoor wat voorwendsel, vals of fiksie is.
 
Wat dink jy impliseer 1 Timotheus 6:19 as dit praat van daardie lewe wat die ‘werklike’ lewe is? Is daar dan ‘n ander lewe wat nie die werklike lewe is nie? 
 
Dink jy ons daaglikse realiteit is ‘werklik’ of ‘vals’? In watter opsigte? 
 
Ek het verder ook gaan kyk na die oorspronklike betekenis van die Griekse woord wat in 1 Timotheus 6:19 as 'lewe' vertaal word. Eerstens word dit beskryf as die absolute volheid van lewe wat aan God behoort en, deur Hom, ook aan die Woord en aan Christus, die Woord wat mens geword het. Tweedens verwys dit na daardie lewe wat werklik en eg is, lewenskragtig, toegewy aan God en geseënd reeds in die huidige lewe van hulle wat op Christus vertrou en wat tot volheid sal kom in die ewige lewe. Hierdie egte lewe vloei vanuit God na die mens.
 
Dit is 'n mondvol maar kom ons kyk weer daarna. Lees weer Strong's se verduideliking van 'lewe' en beantwoord die volgende vrae:

Volheid van lewe behoort aan ___________.

Wat dink jy beteken dit om te se dat volheid van lewe aan God behoort?
 
Hoe bevestig Johannes 1:1 en Johannes 1:14 Strong's se verduideliking dat volheid van lewe deur God ook aan die Woord en aan Christus behoort?
 
Hoe bevestig Johannes 1:4 Thayer se verduideliking dat die lewe wat in God is oorvloei na ons?
 
Volgens Strong's se definisie, is die lewe wat in God is reeds in hierdie lewe tot ons beskikking?
 
Wanneer sal hierdie lewe in ons tot absolute volheid kom? 

 
Sover in ons studie is dit duidelik dat God die bron van lewe is en dat in Hom volheid van lewe is. In die geval wil ek meer weet van die lewe wat daar in God is en was van ewigheid af! Kom ons kyk na drie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament wat ons verder kan help om bietjie meer van hierdie ‘lewe’ te verstaan. Lees die tekste hieronder en beantwoord dan die vrae wat daarop volg:
 
Johannes 17:5 “En nou, Vader, verheerlik My by U, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

Johannes 17:24 "Vader, Ek wil he dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wereld liefgehad het."
 
Efesiers 1:3-6 “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef, voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons in die Geliefde begunstig het.”
 
Watter ‘tyd’ word in al drie hierdie skrifgedeeltes genoem? 

 
Watter ‘lewe’ was daar reeds in hierdie tyd of wie was reeds daar? Lees ook Genesis 1:1 en Johannes 1:1 om jou antwoord te bevestig. 

 
Na aanleiding van hierdie Skrifgedeeltes, kyk na die lys woorde hieronder en maak ‘n regmerkie teenoor die woorde wat lewe voor die bestaan van die wêreld korrek beskryf en ‘n kruisie teenoor die woorde wat nie ‘n korrekte beeld daarvan weergee nie.


Behoefte (need)                                       Verhouding
Liefde                                                       Eenheid
Toeval                                                      Goeddunke
Doelgerigtheid                                         Eensaamheid
Heerlikheid                                              Seëninge
Heiligheid                                                Intimiteit 

Nou is dit jou beurt om  bietjie navorsing te doen. Klik op die vogende skakel om meer te leer oor wat bedoel word met die heerlikheid van die Here en skryf dit wat jy daarvolgens verstaan neer:
 
 
Alles waarna ons sover gekyk het skets vir ons 'n prentjie of 'n beeld van 'voor-wereldse' Lewe met 'n hoofletter as ek dit so kan noem. Kyk of jy 'n beskrywing daarvan in jou eie woorde kan gee. Watter beeld het hierdie tekste by jou geskep van die lewe wat ons in God sien reeds voor die skepping van die aarde?


Hoe verskil hierdie lewe van jou lewe hier op die aarde? 

 
Hoe bewus is jy van die bestaan van hierdie ‘Lewe’ met ‘n hoofletter wat soveel groter en wyer is as ons aardse lewe? 

 
Maak die wete van ‘Lewe’ buite ons konsep van tyd en bestaan ‘n verskil aan hoe jy ons aardse lewe beskou? 

 
Is daar iets wat verhinder dat jy ‘n konstante bewustheid van hierdie ‘Lewe’ het? 

 
Kyk weer na 1 Timotheus 6:19. Dink jy ‘ware lewe’ is binne ons bereik? 

 
Ek weet nie van jou nie, maar ek kyk vandag met nuwe oë na God en na die lewe wat in Hom is. Hy is die fontein van ons lewe en ek wil drink en proe en weet en verstaan van hierdie Lewegewende Water! More leer ons meer daarvan.

Groete tot dan
Lize

4 opmerkings:

  1. Wat beskou ek as die ware lewe? Ok, hier is my eie hartsantwoord - dus nie 'n kop antwoord nie. Ek dink vir my is die ware lewe 'n lewe wat gekenmerk word deur 'n vrede wat kom van 'n verhoudingskennis van die Here en 'n lewe wat verder gekenmerk word deur 'n liefde vir mense. Dis vir my dus wanneer ek so geanker leef in die Here dat ek sy liefde en waarheid vrylik na buite kan uitleef.
    Leef ek dit? Ek smag definitief daarna maar ek dink ek rus nog nie genoeg in my kennis van die Here nie. Ek leer ook definitief nog om mense eerste te stel...ek dink ek fokus nog baie op my eie ding.

    AntwoordVee uit
  2. Ek het die stellings verander dat enige iemand kan kommentaar lewer sonder om eers by die blog aan te sluit omdat party dan gesukkel het om hul kommentare gepubliseer te kry. Ek hoop dit werk nou! Laat weet my as daar enige ander probleme is by lize1on1@gmail.com

    AntwoordVee uit
  3. Ware lewe vir my is om dit (liefde, voorspoed, geluk ens) wat God vir ons gegee het ten volle uit te leef. As Christen wat glo in God is dit ook om voluit te leef met God in my en ek in God. Elke dag die lewe te leef volgens sy woord en riglyne.
    Maar natuurlik as gewone mens is die "werklike" lewe ook die "makliker" lewe. Elke dag leef ons dalk net sonder om te besef hoekom en waarom ons leef. Dat daar 'n doel is met my daaglikse lewe sien ek nie altyd raak nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja jy is reg Elize, ek dink God en sy groter werklikheid en die feit dat ek deel daarvan is, raak vir ons ver verwyder van ons daaglikse aardse werklikheid. Dit raak moeilik om God daarin te pas. Ek dink ons het 'n mindset nodig sodat God se werklikheid ons werklikheid word en ons ons daaglikse dol lewens daarin pas. Ek dink nogal as ons dit kan regkry, sal baie dinge wat daagliks so baie van ons eis, eenvoudig in hul regte plek van prioriteit val indien baie daarvan nie sommer heeltemal wegval nie! Imagine dit!

      Vee uit